Albert Fritz het slegs nege maande as die DA se leier in die Wes-Kaap gedien nadat hy in Mei 2021 verkies is. Nou het hy gevra om opsy te kan staan om gebeure rondom ‘n seksskandaal waarby hy betrek word, te hanteer.
Hy word daarvan beskuldig dat hy jong vroulike werkers in sy kantoor seksueel aangerand het.
Jaco Londt, die DA se Wes-Kaapse voorsitter, het gesê: “Ek kan bevestig dat minister Fritz versoek het dat hy tot einde Februarie van sy pligte as leier verskoon word. Die provinsiale uitvoerende komitee het dit aanvaar en die adjunkleier, LUR Tertuis Simmers, sal vir eers die waarnemende leier wees. Ons beskou hierdie bewerings in ‘n baie ernstige lig en die ondersoek moet toegelaat word om ongehinderd sy gang te laat verloop.”
Simmers, wat onlangs tot adjunk-provinsiale leier verkies is, is die Wes-Kaapse LUR vir Menslike Nedersettings.
Premier Alan Winde het Sondagaand Fritz se skorsing aangekondig.