ISAAC CLOETE
Duisende inwoners van Bergsig was al weer vir dae sonder water.
Die water het vanaf Woensdag drupsgewys deurgekom, maar dan weer verdwyn.
En dit lyk nie asof die probleem vir die erg onstoke inwoners van die Nama Khoi munisipaliteit (NKM) op Springbok blywend opgelos gaan word nie.
Sedibeng Water is die grootmaatverskaffer van water die afgelope tien jaar, maar dit lyk nie asof hulle die mas kan opkom nie.
In sommige dorpe soos Okiep, Nababaeep en Concordia was mense al vir byna ‘n week sonder drink- en waswater, word vertel .
Veral Concordia se inwoners beleef oor die Kersfeestyd die probleem van water en krag wat soms gelyktydig die gees gee. Die tyd van die jaar is die area op sy warmste en die mense op hul “dorsste,” word gespot te midde an die woede.
Volgens Sarel Stone van die plaaslike AfriForum-tak vra hulle al sedert 2002 dat ‘n aanjaerpomp by die Vaalhoekdam te Okiep aangebring word. Sodoende sal die water gouer hiervandaan na Springbok en woonbuurte soos Bergsig, Vaalwater en Matjieskloof gepomp kan word.
“In 1991 was die laaste dam hier rond gebou, sedertdien het die aanvraag drasties vermeerder weens die groot getalle mense wat van elders na die area stroom.”
Volgens hom het NKM in Oktober persoonlik aan hom besvestig dat n nuwe dam spesifiek vir Bergsig gebou gaan word. Die Hospitaaldam sal dan as ‘n reserwe stoordam gebruik kan word in gevalle vn nood soos nou.
“Volgens die grondwet moet elke munisipaliteit waterreserwes gelykstaande aan die gemiddelde verbruik vir 72 dae beskikbaar moet hou,” het hy vertel
Hy voel dat NKM nie hulle beloftes nagekom het nie.
Intussen het die burgemeester van die NKM, dr Gustav Bock, gesê dat die grootste probleem is verouderde infrastruktuur.
“As ‘n lekkasie by een plek reggemaak word, bars dit by ‘n ander plek.”
Hy het ook mense versoek om eers die water van die trokke te kook voor hulle dit gebruik.
Die NKM het begin om slegs twee watertrokke aan te wend om die duisende mense se te woede en dors te blus.
Hieroor was inwoners eers woedend. Hulle glo dat dit te min en te laat is.
Foto: Inwoners van Bergsig veg vir water langs die watertrok.