Die polisie in Limpopo het Woensdag tien verdagtes gearresteer wat na bewering verantwoordelik is vir die aanval op die Malamulele-polisiestasie in November.
Hulle word ook verdink van verskeie OTM-bomaanvalle in die provinsie.
Motlafela Mojapelo, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die mans is Woensdag ná ‘n intensiewe ondersoek in hegtenis geneem.
“Sewe van die verdagtes is in hul skuilplek by Medinyeng Village naby Kgapane onder die Bolobedu-polisiëringsgebied buite Tzaneen, Mopani-distrik gevind en die ander drie is by ‘n lodge in die Dwarsloop-area buite Bosbokrand in Mpumalanga-provinsie in hegtenis geneem. Dit nadat inligting ontvang is dat hierdie verdagtes beoog om ‘n OTM-bomaanval in Mpumalanga te pleeg.”
Hy het gesê voorlopige polisieondersoeke het die mans positief verbind met verskeie OTM-bomaanvalle en gewapende rooftogte in Limpopo, insluitend die onlangse voorval by ‘n vulstasie naby die Capricorn-tolhek langs die N1-Noord, waar ‘n polisiebeampte gewond is.
“Hulle is ook positief verbind met die voorval waar ’n polisielid verbonde aan Botlokwa-polisiestasie van sy dienspistool, R5-geweer en koeëlvaste baadjie beroof is.