Die Durban Sentrale Misdaadvoorkomingseenheid het gister agt verdagtes tussen die ouderdomme van 24 en 39 op twee verskillende misdaadtonele gearresteer vir huisbraak, diefstal en verswarende roof. Al agt verdagtes sal vandag in die Durbanse landdroshof verskyn.
Die polisie het in die vroeë oggendure gereageer op ‘n klag van inbraak by ‘n sakeperseel in Lancersweg en na die toneel gehaas waar hulle vier verdagtes op heterdaad betrap het. Die verdagtes tussen 31 en 39 jaar oud is gearresteer en van huisbraak en diefstal aangekla. Hulle is ook gevind met verskeie ander items in hul besit.
In nog ‘n voorval het die polisie te voet in die Syringa- en Berealaan-omgewing gepatrolleer toe hulle gesien het hoe vier mans ‘n 38-jarige man teen die muur druk en sy besittings vat. Die verdagtes het die polisie gewaar en in die rigting van Syringaweg gehardloop.
Die polisie het hul agternagesit en al vier verdagtes tussen die ouderdomme van 24 en 33 vir roof in hegtenis geneem. Met die deursoek van die verdagtes het die polisie okapi-messe, ‘n beursie en ‘n swart sak in hul besit gevind wat alles positief deur die klaer as sy besittings geïdentifiseer is. Al vier verdagtes is aangekla vir roof en die besit van gevaarlike wapens.