Skip to main content

Dit lyk afgesaag om te sê dat verbruikers vanjaar hulle gordels moet stywer trek, maar dinge lyk nie goed vir jou beursie as jy in ag neem dat verbruikersinflasie in Desember 2021 5,9% bereik het nie. Dit is die hoogste jaarlikse koers sedert Maart 2017.

Suid-Afrikaners het ook in Desember verlede jaar meer vir kos en nie-alkoholiese drankies, sowel as vir vervoer, opgedok. Die koste om iemand van A na B te kry het die hoogte ingeskiet, met vinnig stygende petrol- en dieselpryse.

Rentekoerse het laat verlede jaar gestyg en die land worstel met groeiende werkloosheidsyfers, wat meer geneig is om vanjaar erger te word, eerder as om te verbeter.

Daarby kan verbruikers binnekort ‘n tariefverhoging van 20,5% van Eskom in die gesig staar.

Alhoewel die Wêreldbank optimisties blyk te wees dat die land se ekonomie tot pre-pandemiese vlakke sal herstel, is daar ‘n paar redes tot kommer, soos grootskaalse werkloosheid, stadige implementering van hervormings, stygende staatskuld en skulddienskoste.

Dit mag dus glad lyk, maar maak nog ‘n kerf op daardie gordel en trek dit styf.

Leave a Reply

error: Content is protected !!