Skip to main content

Bestandele:

150ml koue water

400gr vet (enige dier vet)

30ml seepsoda (caustic soda)

Houer om klaargemaakte seep in te giet.

 

Seepsoda:

Seepsoda kan in byna enige supermark gevind word, maar wees baie versigtig met die hantering daarvan. As dit aan jou hande raak, kan jy lelik brand en wanneer die seepsoda met die water meng, styg daar walms op wat giftig is. So maak seker jy haal nie asem direk bo die bak met water en seepsoda nie.

 

Die Vet:

‘n Bees se agterkwart se vet kan gebruik word. Die vet word in blokkies gesny, gooi dit in ‘n groot pot en braai dit oor lae hitte om sodoende alle vet uit te haal. Voor die vet weer stol, syg dit deur ‘n doek sodat net die suiwer vet kan deursyg en net die kaaiings oorbly. Dit is hierdie vet wat gebruik word vir die boerseep.

 

Houers:

Enige houer kan gebruik word, solank dit nie vlekvrye staal is nie. ‘n Goeie idee is ‘n leë roomys houer (2Liter) of ‘n oopgesnyde karton koeldrank boksie. Wanneer die seep gestol het, kan die seep maklik uitgehaal word aangesien die houer kan buig.

 

Metode:

Plaas die water in ‘n porselein- of stewige plastiek bak. Gooi die seepsoda versigtig by sodat dit nie spat nie, en laat staan dit ongeveer 5 minute, totdat die mengsel warm is.

Smelt ondertussen die vet in die mikrogolfoond of op die stoof. Dit moet heeltemaal gesmelt wees.

Giet die gesmelte vet versigtig by die water en seepsoda mengsel.

Roer met ‘n houtlepel vir ongeveer 40 minute, totdat dit verdik.

Giet dit oor in die voorbereide houers om hard te word.

Haal die seep uit na 24 uur en sny dit in die grootte wat vir jou gerieflik is. (Gebruik ‘n warm mes vir ‘n meer afgewerkte uitkoms)

Draai die seep toe in kleefplastiek en bêre op ‘n droë en donker plek.

 

Resep verskaf deur @ReneH

Leave a Reply