Skip to main content

Omgewingskwessies is baie belangrik in ons samelewing en ons almal moet probeer om ‘n verskil te maak. Die bekende skrywer Johannes Bertus de Villiers vertel Die Waarheid hoe ons meer omgewingsvriendelik kan wees.

“Baie dikwels klink omgewingskwessies so enorm dat ons dink ons kan nie iets daaraan doen nie. Wat kan een mens oor klimaatverandering of die massa-uitwissing van spesies doen? Tog kan jy jou lewe aanpas om ’n verskil te maak,” sê Johannes.

Hy vertel dat die VN jare gelede ’n verslag uitgebring het genaamd Livestock’s Long Shadow met bevindings dat veeboerdery geweldig vernietigend is. Nie net veroorsaak dit baie besoedeling nie, die verbouing van voer vir diere verg ook veel meer grond as wat die verbouing van groente en vrugte vir mense sou vereis.

Voorspelling toon dat 50% van alle dier- en plantspesies teen die jaar 2100 uitgesterf sal wees as ons nie iets doen om ons leefwyse te verander nie.

Mense vermors so baie plastiek dat kenners raam dat daar teen 2050 meer plastiek in die see sal wees as visse. Baie van daardie plastiek is onsigbaar – dit word opgebreek in mirkodeeltjies wat deur visse geëet word, met die gevolg dat enige vis wat jy op jou bord eet, waarskynlik heelwat plastiek bevat. Kommersiële plastiek kan tot 500 jaar neem om te ontbind, gaan Johannes voort.

“Die twee maklikste dinge wat mens in jou alledaagse lewe kan doen, is om minder vleis te eet en jou gebruik van plastiek te verminder,” sê Johannes.

“Baie mense wil nie vleis heeltemal uitskei nie, so hulle word “weekdag-vegetariërs”. Dit beteken hulle eet van Maandag tot Vrydag geen vleis nie, maar oor die naweek kan jy nog braai.

Doen ook die moeite om ’n verskeidenheid groente en vrugte te eet. Moet nie net aartappels en brood eet nie, eet groen blaargroente, rooi bessies, ’n verskeidenheid boontjies en neute, beveel Johannes aan.

Hy gee ‘n paar wenke om vandag te begin om meer ongewingsvriendelik te wees:

– Vind uit of daar in jou omgewing ’n winkel is wat plastiekvrye inkopies verkoop.

– Draai jou en jou kinders se toebroodjies in waspapier toe eerder as plastieksakkies.

– Hou altyd ’n paar lapsakke in jou motor se kattebak vir jou kruideniersware.

– Eet uit ’n bord of bakkie, en stoor so ver jy kan jou kos in glashouers.

As ons almal dit doen, kan dit ’n groot impak hê, sê hy.

Leave a Reply