Dit is ‘n nuwe skooljaar en vir baie kinders en selfs volwassennes word die onderwerp ‘boelie’ ongelukkig baie ligtelik opgeneem of selfs onder die mat gevee.
Ongelukkig bestaan boelies. Hier is bietjie raad oor hoe om ‘n situasie te hanteer as jy vermoed iemand word geboelie.
Dit is nie net kinders wat geboelie word nie. Boelies is oral, op skool, op sosiale media, by die werkplek en dit is ‘n ernstige saak wat ’n groot impak op die slagoffer se lewe kan hê.
Navorsing toon ook dat jong mense wat geboelie word dikwels self boelies word. Daar is ook bevind dat soveel as 57% van Suid-Afrikaanse leerders op een of ander tyd gedurende hulle hoёrskoolloopbaan geboelie is of word. Nog ’n studie oor kuberboeliery wat op jeugdiges tussen die ouderdom van 12 en 24 gedoen is, het bevind dat 7 uit 10 van diegene wat erken het dat hulle ander boelie, self slagoffers was.
Daar is verskeie maniere van boelie, soos:
Verbaal – noem ander lelike/afbrekende name, dreigemente dat die persoon seergemaak gaan word en uittarting.
Sosiaal – om iemand met opset te ignoreer of uit te sluit en ander aan te moedig om dit ook te doen, onwaarhede oor die persoon te versprei, of die persoon in die openbaar te verkleineer.
Fisiek – lei dikwels tot fisieke en soms gewelddadige aanranding van ’n persoon of beskadiging van hulle besittings. Hierdie soort aanranding kan tot strafregtelike stappe lei.
Kuberboeliery – vind oor die internet plaas op sosiale media platforms en is gewoonlik die verspreiding van kwetsende en skadelike stories en gerugte.
Hoe lyk die tipiese slagoffer?
Dit is ‘n kind of persoon wat nie goed met ander oor die weg kom nie en minder gewild is, min of geen vriende het nie, afwyk van normale gendernorme, fisies of etnies anders is, ’n lae selfbeeld het en depressief of angstig is.
As jy vermoed of weet jou kind of ‘n persoon word geboelie, wat doen jy?
Dit is belangrik is om nie sommer net reguit te vra of hy/sy geboelie word nie. Vra liewer meer subtiele vrae soos:
Boeliery is deesdae in die nuus, gebeur dit by julle skool ook?
Ek is bekommerd oor jou. Is daar dalk iemand wat jou afknou?
Word jy gespot?
Word jy aspris uitgesluit van sekere groepe/vriende?
Verseker jou kinders dat hulle enige iets met jou kan bespreek en dat jy altyd daar is vir hulle. Jou kind moet weet dat jy hulle bekommernisse ernstig opneem en daadwerklik sal optree om hulle te beskerm.
Gaan praat met die skool en onderwyser en neem jou kind saam met jou sodat julle almal saam kan werk om te verseker dat dit nie weer gebeur nie.
Dokumenteer boelievoorvalle, wat gebeur het, waar en wanneer dit plaasgevind het, hoe jou kind gereageer het en hoe die boelie en omstanders gereageer het. Dui ook aan of daar op oplossings besluit is en of dit suksesvol was.
Die volgende waarskuwingstekens kan aandui dat jou kind geboelie word:
Jou kind kom bekommerd, kwaad en buierig voor.
Jou kind kan meer gereeld nagmerries ervaar.
Jou kind vermy om fisiese beserings te verduidelik.
Onttrekking van vriende en aktiwiteite wat hulle vroeër geniet het.
Riglyne verskaf deur Afrikaans.com en die SAPD webwerf.