Skip to main content

House of Gucci

Met Lady Gaga, Jeremy Irons, Al Pacino, Salma Hayek, Jared Leto en Adam Driver.

Ek het Saterdagaand ‘n rolprent oor ‘n Italiaanse familiebeheerde modehuis gaan kyk.

Klink dit saai en onmanlik? Dit was nogal. Of dit sou gewees het as dit nie vir Lady Gaga se voortreflike vertolking van Patrizia Reggiani was nie.

Maak geen fout nie, daar is groot name in House of Gucci – Jeremy Irons, Al Pacino, Salma Hayek, Jared Leto, Adam Driver… Maar dit is Gaga wat hierdie byna dokumentêre rolprent red van ‘n blote gewas van vuil wasgoed in die openbaar.

Ons wat al gryserig begin word het die storie oor die jare in die skindertydskrifte gelees: Patrizia ontmoet vir Maurizio Gucci in 1970 in ‘n diskoteek. Hulle knoop ‘n vurige verhouding aan, maar Maurizio se pa, Rodolfo Gucci, skop hom uit die familiebesigheid omdat hy meen sy is ‘n blote fortuinsoeker.

Maar Patrizia en Maurizio trou en hy moet in haar pa se vragmotorbesigheid gaan werk. Dan moet Patrizia die res van die gesin ontmoet (en bekoor), insluitend Maurizio se verloorder-neef en talentlose aspirant-ontwerper Paolo. En dan is daar Maurizio se oom, Aldo.

Later keer Patrizia en Maurizio terug na die Gucci-empire, sy wend haar gedurig tot ‘n fortuinverteller, hy verneuk haar met ‘n elegante blonde tertjie, daar’s ‘n moord…

House of Gucci is nie ‘n opwindende, aksiebelaaide fliek nie, maar dit is nie sonder sy goeie oomblikke nie. Pacino lewer uithalerspel, Irons het ‘n verstommende snorretjie en mens kan jou verkyk aan Leto se grimering en Driver se tamaai bril.

Maar uiteindelik is dit Lady Gaga wat die kyker om haar pinkie draai. As jou metgesel mooi is en jy hou van springmielies, is dit nie ‘n slegte manier om ‘n Saterdagaand deur te bring nie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!