Isaac Cloete
‘n Munisipaliteit se drinkwater lyk vir inwoners soos bitterbier.
Na die jolly Kerstyd sal baie babelaas ouens dit seker wou drink as dit nie so gestink het nie.
Volgens inwoners van die dorpie, Calvinia in die Hantam-area, was die water Sondag swart.
Een het gesê: “Die water is ongeskik vir my wasgoed of om jou daarmee te was. Dit is vuil en boonop moet ons nou drinkwater ten duurste aankoop.”
Volgens ons bron is die water al die afgelope ruk ‘n skande vir die dorp. Dan verbeter dit effe, maar versleg weer daarna. Vandag(Maandag) was die inwoners egter keelvol toe hulle die vaal, stink vloeistof uit die blink krane sien kom.
Die ironie is dat ‘n nuwe wateraanleg hier teen groot onkostes voltooi was. Daar is egter geen verbetering in watergehalte nie, word vertel deur gatvol inwoners.
Op 22 Desember (kort voor Kersfees) het die gebied wonderlike donderweerreëns gehad. Toe het inwoners dit bestempel as ‘n wonderlike Kersgeskenk vir die dorpie. Van die strate het in strome verander en die dorp het gejubel. In Pastoriestraat het byvoorbeeld ongeveer 20 mm geval.
Volgens ‘n inwoner hier, Ernest van Zyl, het op Noordhoek, net buitekant Calvina, gedurende daardie een week 100 mm reën geval. Ander plekkies het tussen 6-25 mm reën gekry.
Volgens Ernest van Rooyen,’n wykskomiteelid van die Patriotic Alliance, het ‘n ANC-raadslid (naam bekend) glo gesê dat niemand al van die water doodgegaan het nie.
Van Rooyen het verder vertel:
“Die waterprobleem begin veral gedurende Kersfees en Easter as die munisipaliteit gesluit het. Hulle het ook nie opgeleide mense wat die waterpbleem kan aanspreek nie.”
Teen druktyd het die munisipale bestuurder, Jannie Swartz, nie op Die Waarheid se navrae gereageer nie.
Intussen sweer die inwoners hoog en laag dat hulle nie hierdie stink “biererige” waterstorie so sal laat los nie. Hulle wil hê dat dit opgelos moet word.