Sedert die aanval op 3 januarie op ‘n gesin buite die Kruger Nasionale Park, het minstens R1 miljoen se inkomste verlore gegaan nadat toeriste besprekings gekanselleer het.
Dit is bevestig deur die Kruger Laeveld Kamer van Besigheid en Toerisme (KLCBT) se hoof, Linda Grimbeek, na ‘n vergadering met Mpumalanga se polisiekommissaris, luitenant-generaal Semakaleng Manamela, oor die voorval.
Melani de Beer en haar twee kinders, Miah (14) en Marnu (11), was op pad na hul huis in Pretoria nadat hulle by die Pretoriuskop-ruskamp in die Kruger Nasionale Park, vakansie gehou het toe hulle deur twee gewapende mans naby ‘n taxistaanplek by Mganduzweni aangeval is.
12 Skote is op die gesin se motor afgevuur. De Beer se dogter is op twee plekke in die been geskiet, en het ‘n operasie ondergaan. Sy is eers verlede naweek uit die hospitaal ontslaan.
“Ek kan bevestig dat die polisie alles in hul vermoë doen om die verdagtes op te spoor. Die nuwe kommissaris is toegewyd en gedrewe,” sê Grimbeek.
Grimbeek het ook gesê die aantal toeroperateurs wat haar gebel het om kansellasies te bevestig, was oorweldigend.
Sy het gesê daar was selfs ‘n toergroep van Engeland wat deur Afrika gereis het wat die Suid-Afrikaanse deel van hul reise ná die voorval gekanselleer het.
Dumisani Dlamini, die waarnemende uitvoerende hoof van Suid-Afrikaanse Nasionale Parke, het in ‘n verklaring gesê provinsiale veiligheidsbeamptes in die provinsie patrolleer gereeld alle roetes na die park.
“Ons doen ‘n beroep op verantwoordelike gemeenskapslede om aktief te wees in die beskerming van toeriste wat die provinsie besoek, aangesien toerisme die sleutel is om landelike ekonomiese aktiwiteit te bevorder,” het Dlamini gesê.
Die polisie het klagtes van poging tot moord en poging tot kaping geopen. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.