Skip to main content

Isaac Cloete

 

Daar word beweer dat ‘n skoolhoof  ‘n skoolsaal se geld vir haar kerk aangewend het.

Nou is die gort gaar op Loeriesfontein in die Noord-Kaap, want R 500 000 is nie te versmaai nie. Behalwe dit wonder inwoners hoedat ‘n geestelike hom met sulke ongerymdhede kan vereenselwig.

Elton Januarie is ‘n  inwoner van hier. Hy is ook ondervoorsitter van die skoolbeheerraad(SBL) en het agterna die bedrog ontbloot.

Volgens hom het die skoolhoof, mev Jolene Klaaste, verlede jaar geld by die Transnet Foundation gekry om die skoolsaal van Loeriesfontein primêr op te gradeer.

Hy sê: “Sy het deur middel van valse voorwendsels vir die geld aansoek gedoen. Na die goedkeuring het sy die geld gebruik om die VGK-kerksaal hier op te gradeer.”

Volgens ons inligting was die aangeleentheid reeds onder die aandag van die departement van onderwys gebring. Die kringbestuurder vir die skool, Charmaine Cupido-Erasmus, het ook al die bewyse van die beweerde bedrog van sowat R500 000 gekry.

Januarie sê driftig: “Die skoolhoof  behoort afgedank te word. Baie SBL-lede voel ook so, want sy het hulle nie eens in die aangeleentheid geken nie.”

Cupido-Erasmus sou verlede Maandag reageer op die navrae hieroor. Sy het intussen, ‘n dag later (Dinsdag), laat weet dat die aangeleentheid nou by die distriksdirekteur op Springbok lê, asook by die LUR van onderwys se kantoor in Kimberley.

Volgens Januarie speel Cupido-Erasmus kat en muis met hulle, want sy is bewus van alles weens die bewyse wat aan haar voorgelê was. (Die Waarheid is in besit van die bewyse)

Klaaste het gesê dat sy geen kommentaar het om te lewer nie.

Ds Fabian Kotze van die VGK op Loeriesfontein was nie beskibaar vir kommentaar nie.

Intussen het Geoffrey van der Merwe, die woordvoerder van die LUR van onderwys, gesê dat hy nog vir ‘n verslag wag oor die aangeleentheid.

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!