Omgewingsaktiviste berei voor vir nog ‘n regstryd teen ‘n beplande seismiese opname. Dit kom minder as ‘n maand nadat die hooggeregshof in Makhanda ‘n interdik teen die oliereus Shell toegestaan het oor sy voorgenome verkenning van die Wildekus langs die Oos-Kaap.
Nou poog Searcher Seismic – ‘n geowetenskapdataverskaffer wat petroleum- en mynmaatskappye bedien – om ‘n 2D- en 3D-seismiese regstellingsprojek tussen die Namibiese grens en Kaap Agulhas uit te voer, berig allAfrica.
Die Australiese dataverskaffer is in Mei 2021 ‘n verkenningspermit deur die Petroleum Agency SA (PASA) toegestaan. Volgens PASA laat ‘n verkenningspermit die houer toe om geologiese, geofisiese of fotogeologiese opnames en enige afstandswaarnemingstegnieke te onderneem.