Skip to main content

‘n Vermeende moordverdagte se vergeefse pogings om arrestasie te ontduik het uiteindelik opgeraak toe lede van die Anti-Bende-eenheid (ABE) hom oor die afgelope naweek in ‘n huis in William Slammert-rylaan in Bloemendal in hegtenis geneem het.

Na bewering is die lyk van Alviro Potberg (27) in Desember 2021 gevind waar hy langs ‘n grensmuur in die straat op die hoeke van Baatjies- en Fitchardweg in Helenvale gelê het. Hy het ‘n skietwond in sy oog opgedoen en is op die toneel dood.

Gedurende ‘n ondersoek is die verdagte, ‘n bende-affiliaat, geïdentifiseer en die polisie was op soek na hom. ABE-lede het Saterdag omstreeks 08:30 opgetree op grond van inligting wat ontvang is oor die moontlike verblyfplek van die vermeende verdagte. Die huis in Bloemendal is takties genader en die verdagte is in hegtenis geneem nadat hy in die plafon weggekruip het.

Die 28-jarige verdagte sal na verwagting vandag in die Gqeberha-landdroshof verskyn op aanklag van moord.

 

In nog ‘n onverwante voorval het ABE-lede ‘n 33-jarige Missionvale-man in hegtenis geneem kort nadat hulle gereageer het op ‘n klag van ‘n skietery in Monzastraat in Missionvale. Die verdagte is opgemerk waar hy in Phoenixstraat gehardloop het en is in Cadillacstraat onderskep waar hy in hegtenis geneem is. Terwyl hy gehardloop het, het lede opgemerk hoe hy iets in ‘n emmer in ‘n krot wegsteek. ’n Silwer .38-rewolwer (reeksnommer afgevyl) is teruggevind.

Die verdagte is aangehou op ‘n aanklag van die besit van ‘n verbode vuurwapen en sal vandag in die Gqeberha-landdroshof verskyn.

 

Die waarnemende Nelson Mandelabaai-distrikskommissaris, brigadier Thandiswa Kupiso, het die pogings van die Anti-Bende Eenheid toegejuig en waarsku bendelede dat “ons sal voortgaan om die bendebrandpunte te infiltreer en hul ruimtes te beset om die veiligheid van ons gemeenskappe te verseker. Dit is net ’n kwessie van tyd voor ons, die polisie, hulle vind en arresteer.”

Leave a Reply