Eerwaarde Kenneth Meshoe, die president van die ACDP, het hom vanoggend sterk uitgespreek teen verpligte Covid-19-inentings.
“As God saligheid aan diegene bied wat dit self wil aangryp, wie is mense om ander te wil dwing om iets te doen?” het hy tydens ‘n mediakonferensie in Braamfontein gevra.
Meshoe is ‘n uitgesproke teenstander van verpligte inentings. Hy het al voorheen sy kommer uitgespreek oor president Ramaphosa se opmerkings “oor die instel van maatreëls wat inenting ‘n voorwaarde maak vir toegang tot werkplekke, openbare geleenthede, openbare vervoer en openbare inrigtings”.
“Dit sal na ons mening diskriminerend wees en sal neerkom op die ‘dompas’ van die apartheids-era,” het hy verlede jaar by geleentheid gesê.
Meshoe het hom ook sterk by studenterade geskaar wat universiteitsenate teenstaan wat ongevaksineerde student nie op kampusse wil toelaat nie.
“Die ACDP is ten gunste van vrywillige veilige inentings waaroor die publiek ten volle ingelig is. Party mense noem die huidige inentings ‘eksperimenteel’. As iemand ‘n proefkonyn wil wees, moet hulle dit uit eie keuse doen, nie omdat hulle gedwing word nie,” het hy gesê.
Die ACDP het twee mense aan die media voorgestel wie ernstige gesondheidsterugslae beleef het nadat hulle verlede jaar die Johnson & Johnson-inenting ontvang het.
Zakhele Goqo, ‘n voormalige paramedikus van Newcastle, en Soreka Oosthuizen probeer beide vergoeding van die regering se Covid-kompensasiefonds eis, maar klaarblyklik weet niemand, insluitende die minister van gesondheid, hoe en waar om eise in te dien nie.
Oosthuizen sê sy het binne ure nadat sy op 3 Mei verlede jaar die inenting ontvang het, erge allergiese reaksies begin toon.
Intussen het sy verskeie gesondheidsprobleme ontwikkel, onder meer Stevens-Johnson-sindroom, interne bloeding, bloedklonte, hartprobleme, kanker, voortdurende menstruasie, neurologiese probleme en longprobleme.
Sy is verskeie kere die afgelope jaar geopereer.
“Ek deel my storie nie om enigiemand van opinie te laat verander nie, maar wel om mense in te lig dat newe-effekte wel bestaan,” het sy vertel.
Goqo het vertel dat hy voor sy inenting in Maart 2021 laas in 2017 met siekverlof was. “Ek was ‘n gesonde man sonder enige onderliggende toestande,” het hy gesê.
Drie dae later het hy ‘n absesagtige knop in sy linkerarm gekry en sy liggaam het snags begin jeuk. Weke later het hy ernstig siek begin word. Hy het gesukkel om asem te kry, het las van duiseligheid en warm gloede gehad en is deur erge moegheid lamgelê.
Hy het later ‘n swelsel by sy linkeroor ontwikkel, wat uiteindelik ‘n geweldige kwaadaardige gewas geword het. Goqo moes ses keer pynlike chemoterapie daarvoor ontvang en kan steeds nie normaal praat, asemhaal of sonder moeite loop nie.
Sy salaris is met die helfte verminder en hy sê sy werkgewer, wat baie druk op hom geplaas het om ingeënt te word, het tot vandag toe nog nie aanspreeklikheid vir sy gesondheidsprobleme aanvaar nie.