Skip to main content

Die Zondo-kommissie het verlede week die eerste van sy drie verslae oor staatskaping uitgereik, wat die kans verhoog dat ‘n vlaag van vervolgings en skuldigbevindings uiteindelik sal volg. Tot dusver was optrede teen korrupsie pateties gebrekkig in Suid-Afrika. Vervolgings kon inderdaad voorafgegaan of parallel met die Zondo-kommissie se verhore geloop het.

Soos Business Day uitgewys het, het die staat slegs daarin geslaag om die bates van sommige van diegene wat van bedrog en korrupsie beskuldig word in die gevalle van beweerde wanpraktyke in die Vrystaat, Transnet en Eskom te bevries. Om sake van korrupsie nie aggressief na te jaag nie, kan gesien word as ‘n gebrek aan politieke wil, of dat die staat geïntimideer word deur dreigemente en die gepeupelgeweld van Julie verlede jaar.

Vroeër hierdie week het die Minister van Justisie, Ronald Lamola, gesê die regering oorweeg dit om sake van staatskaping te versnel met die gebruik van ‘n spesiale hof. Hy het gesê dit is ook besig om ‘n span ondersoekers en aanklaers saam te stel, soos wat die ontbinde Skerpioene was. Wanneer ons hierdie spesiale maatreëls sal sien, is onduidelik. Wat wel duidelik is, is dat dit baie verdoemend vir die Suid-Afrikaanse regstelsel sal wees, sou die Zondo-kommissie ‘n groot teatervertoning van R1 miljard blyk te wees.

Terwyl die blote omvang van plundering, wat op R1 triljoen geraam is, onder president Jacob Zuma en die Gupta-broers skokkend was, het dit nie opgehou onder president Cyril Ramaphosa nie. Korrupsie is ‘n chroniese probleem. Bewerings oor verdagte staatsaankope om die Covid-19-pandemie te help hanteer, het die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, verlede jaar gedwing om op spesiale verlof geplaas te word.

Die massiewe plundering deur die Guptas moes ‘n nuwe kyk na maatreëls om korrupsie teë te werk uitgelok het met Zuma se uittrede, eerder as eers nou. Suid-Afrika se teenkorrupsiestelsel het in die boonste geledere uitmekaar geval en daar was absoluut geen meganisme om die Zuma-Gupta-plundery deur die staat te keer nie.

Suid-Afrika is in ‘n inherent swak posisie om amptelike korrupsie te voorkom. Die noue bande tussen die regerende party en die staat is ’n weg wat maklik misbruik kan word vir die korrupte toekenning van kontrakte. Die “ontplooiing” van ANC-kaders het ‘n manier geword dat kontrakte aan ANC-netwerke oorhandig word. Daarbenewens vernou die rassevoorkeure wat gebruik word om kontrakte toe te ken, die veld van bieërs en dit verhoog die kanse op korrupsie. Dit beteken ook die staat is verplig om meer as markpryse te betaal vir baie van wat hy aankoop.

Die Zondo-kommissie het in sy verslag opgemerk dat “kaderontplooiing” ‘n groot bemiddelaar in staatskaping was. “Een van die bepalende kenmerke wat in die getuienis voor die Kommissie na vore gekom het, is dat om openbare fondse vir private voordeel te herlei, dit nodig was om sleutelinstellings te bevolk met mense wat aan bevele sou voldoen,” sê die verslag.

Om die skakel tussen party en staat te verbreek sal baie moeilik wees ná die jare waarin die ANC lede in amptelike posisies verskans is. ’n Wet wat “kaderontplooiing” verbied, sal moeilik wees om af te dwing, aangesien bande met die party ver van deursigtig is. Suid-Afrika sal ‘n groot probleem ondervind om ‘n staatsdiens te skep wat die regering van die dag dien en nie na politiese pype dans nie. ‘n Staatsdiens wat bereid is om die regering van die dag te dien, is die basis van elke moderne demokratiese staat wat doeltreffend funksioneer.

 

In Suid-Afrika is daar twee groot probleemareas vir korrupsie, die staatsondernemings en staatsaankope. Die meeste van die ondernemings in staatsbesit ly verliese vanweë hul buitensporige aankope en personeelkoste. Eskom se aankoop van groot hoeveelhede laegraadse diesel en steenkool wat onder die graad is wat vir sy ketels vereis word, is ‘n belangrike faktor in sy stadige ondergang, sowel as die glo doelbewuste vernietiging van aanleg en masjinerie om kontrakte te verseker.

Pogings om korrupsie te hanteer is nie aangehelp deur die gereelde gekwalifiseerde en laat oudits wat hierdie ondernemings ontvang nie. Gebrek aan inligting kan as ‘n toesmeerdery gesien word. Daar is geen realistiese opsie van ‘n ommekeer van hierdie entiteite as hulle in regeringshande bly nie. Die beste weg is om hulle te privatiseer of te likwideer en sodoende die las op die staat en die koste van korrupsie te verminder.

Navorsing deur die Internasionale Monetêre Fonds dui daarop dat korrupsie een van die hoofredes is waarom private maatskappye geneig is om beter bestuur te word as maatskappye in staatsbesit. In minder korrupte lande is die tipe eienaarskap minder relevant vir prestasie.

Staatsaankope, en veral groot infrastruktuurprojekte, is die ander groot heuningpotte wat korrupsie lok. Om die grootte en rol van die staat dramaties te verminder is een deurslaggewende manier om die korrupsieprobleem te hanteer.

Groter deursigtigheid in die toekenning van staatskontrakte en vryheid van die pers kan ook help. Chili en Suid-Korea het suksesvol digitale aankoopstelsels ingestel om deursigtigheid te verbeter. Baie openbare aankoop-agentskappe dink daaraan om blokketing (‘blockchain’), die tegnologie agter Bitcoin te gebruik. Die blokketting skep ‘n verspreide grootboek van transaksies wat nie verander kan word nie. Afhangende van hoe dit opgestel is om aankope te monitor, kan blokkettingtegnologie gebruik word om te bepaal wie se familielid in staat was om verskeie kontrakte te ontvang.

Daar is baie internasionale bewyse oor hoe om korrupsie te stop. Volgens Business Day het Singapoer baie om die wêreld te leer hoe om korrupsie te hanteer, ten spyte van sy unieke kenmerke as ‘n stadstaat en sy taai regering.

Een van hierdie lesse is dat die stryd teen korrupsie nie geleidelik kan wees nie – dit verg ‘n omvattende strategie en ‘n doeltreffende anti-korrupsie-agentskap. Die minister van justisie se pleidooi, wat in Business Day gerapporteer is, dat die regering ‘n kans gegee moet word in sy stryd teen korrupsie, is buitengewoon gegewe die dringendheid en die gebrek aan optrede tot dusver.

Een les is dat die spesiale ondersoek- en vervolgings-teenkorrupsie-agentskap nie vanuit die polisie geopereer moet wees nie. Boonop moet die anti-korrupsie-agentskap onkreukbaar wees en sy personeel moet eerlik en omkoopbaar wees. Die Skerpioene was onafhanklik, maar is ontbind deur leierskap wat hulle as te magtig beskou het.

Nog ‘n les is dat die aansporing vir korrupsie wat moontlik deur lae salarisse en slegte werksomstandighede in staatsdepartemente verskaf kan word, verminder moet word. Staatsdepartemente waar daar kanse op korrupsie is, moet noukeurig gemonitor word en prosedures moet voortdurend hersien word om geleenthede te verminder vir amptenare om aan korrupsie deel te neem.

Maar bowenal sê die koerant dat Singapoer se sukses in die vermindering van korrupsie te danke was aan sterk politieke wil. Die skrywer Jon S.T. Quah sê die politieke leierskap moet “voorbeeldige gedrag toon, ‘n beskeie lewenstyl aanneem en vermy om hulself aan korrupsie oor te gee.”

Sonder sterk politieke wil, voorbeeldige leierskap en dringendheid is die korrupsiestryd in ons land verlore.

 

Geskryf deur Jonathan Katzenellenbogen. Geplaas met vergunning van Daily Friend.

Leave a Reply