Daar word beweer dat die SA Regering die Khoisan broers by die Uniegebou wil verwyder na meer as 3 jaar by die Uniegebou sonder dat die SA President hul memorandum van eise aangespreek het…
Khoisan SA oftewel Khoisan Triegardt is saam met twee ander gearresteer vir die plant van dagga by die Uniegebou en word aangehou by die Sunnyside Polisiestasie in Pretoria.
Die klein groepie Khoisan-gemeenskapslede kamp net meters van die standbeeld van oudpresident Nelson Mandela met die doel om met President Cyril Ramaphosa te vergader oor kwessies van erkenning, grond, taal en die herstel van hul identiteit.
Koning Khoisan se vrou, koningin Cynthia, het gesê die daggaplante waarvoor die koning in hegtenis geneem is, is al vir drie jaar lank daar.
“Die koning het alles probeer om te verhoed dat die polisie die plante uithaal. “Ons gebruik dagga al baie lank vir medisinale doeleindes en mense kom daagliks na ons toe wanneer hulle siek is.”
Koningin Cynthia het ook gesê dat hulle baie ontsteld is dat niemand van die President se kantoor die moeite gedoen het om met hulle te praat nie.
“Ek is baie dwars. Ons is al sedert November 2018 hier en Ramaphosa het nog nooit eens ‘n minuut van sy tyd geneem om ons teenwoordigheid aan te spreek of te erken nie, tog bring hulle nou polisie in om ons te pynig.”
“Hulle het selfs ons kamp geplunder om onwettige goed te vind sodat ons ook gearresteer kan word.”
“Dit het ons gesin getraumatiseer, insluitend ons seun wat in graad 9 is. Hy het nie eens skool toe gegaan nie, want hy is ontsteld en getraumatiseer.”
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens wou nie kommentaar lewer nie.