Skip to main content

Brad Bilton (47) is op Maandag, 27 Desember op die aanklagtes van diefstal en bedrog in Potchefstroom vasgetrek. Hy verskyn weer op 17 Januarie in die Potchefstroomse landdroshof.

Potchefstroom SAPD het die berugte swendelaar gearresteer wat via Facebook met enkellopendes en weduwees kontak maak en dan besteel.

Volgens provinsiale polisiewoordvoerder, Kol. Adele Myburgh is Bradley Bilton (47) op Maandag, 27 Desember op die aanklagtes van diefstal en bedrog in Potchefstroom vasgetrek.

Bilton het op Dinsdag, 28 Desember vir die eerste keer in die Potchefstroomse landdroshof verskyn waarna sy borgtog aansoek nie toegestaan is nie. Hy verskyn weer op Maandag, 17 Januarie in die hof.

Bilton is al 13 keer gevonnis in verband met verskeie nasionale misdade oor die afgelope drie dekades. Myburgh noem dat Bilton se modus operandi is om Facebook as platform te gebruik waar hy enkellopende en geskeide vroue met vals beloftes teiken en dan besteel.

“Hy het met ‘n Potchefstroomse weduwee op Facebook kontak gemaak en homself as ‘John Clarke’ voorgedoen en nadat hulle boodskappe op sosiale media gedeel het op 14 Desember by haar huis in Potchefstroom opgedaag.  Hy het toe by hierdie vrou tuisgegaan vir ‘n paar dae,” noem Myburgh.

Die slagoffer het onraad vermoed toe haar geld en elektroniese toerusting begin verdwyn het. Sy het Bilton se regte identiteit uitgevind, op die internet gaan rondsoek en vasgestel dat sy net nog een van vele vroue is wat hy bedrieg het.

“Hy het aan die vrou genoem dat hy programme op haar tablet wil installeer, maar het net eintlik haar tablet en laptop gesteel en verpand. Na die vrou Bilton se regte identiteit opgespoor het, het sy die polisie geskakel,” noem Myburgh.

Die polisie doen ‘n beroep op die publiek om op die uitkyk te wees vir onbekende mense wat hulle op sosiale media nader. Hulle gebruik vals profiele om weerlose mense teiken.

Leave a Reply