Die polisie in Gauteng het meer as 1460 verdagtes in hegtenis geneem tydens misdaadvoorkomingsoperasies en klopjagte op gesoekte verdagtes wat die naweek uitgevoer is. Van die gearresteerdes se verdagtes misdrywe gepleeg het wat insluit motorkaping, moord, poging tot moord, verkragting, aanranding met die doel om ernstig te beseer, besit van ongelisensieërde vuurwapens, handel in dwelms, bestuur onder die invloed van drank, gewapende roof en besit van vermoedelik gesteelde eiendom.
Onder diegene wat in hegtenis geneem is, was vier verdagtes wat na bewering aan ‘n bende behoort wat verantwoordelik is vir motorkapings en gewapende rooftogte in die suide van Johannesburg. Die polisie is op soek na die bende nadat verskeie sake van kaping en roof van bankkaarte in Lenasia, Ennerdale, De Deur en Orange Farm aangemeld is.
’n Span bestaande uit lede van Misdaadintelligensie, eenhede van SAPD en Metropolisiedepartemente, het na die verdagtes gaan soek totdat vier van hulle die naweek in Lenasia opgespoor en in hegtenis geneem is. Hulle sal Maandag, 10 Januarie 2022 in die Lenasia-landdroshof verskyn op aanklagte van motorkaping en gewapende roof.
Altesame 265 verdagtes is in Johannesburg-distrik gearresteer vir verskeie ernstige en gewelddadige misdade. Die polisie het op onwettige mynwerkers in Florida toegeslaan en verdagtes gearresteer wat ook onwettige immigrante is. Daar is beslag gelê op onwettige myntoerusting wat pikke, grawe en gouddraende materiaal insluit.
Meer as 565 verdagtes is in Tshwane vasgetrek tydens misdaadvoorkomingsoperasies wat Vrydag begin het met die O Kae Molao-operasie onder leiding van die Gautengse provinsiale kommissaris, luitenant-generaal Elias Mawela. Hier is verdagtes in hegtenis geneem tydens padblokkades, klopjagte op onwettige drankwinkels, opsporing van gesoekte verdagtes asook stop- en deursoek-operasies.
Gesamentlike intelligensie-gedrewe operasies was effektief en het positiewe resultate in Ekurhuleni opgelewer waar meer as 340 verdagtes gearresteer is vir misdade wat wissel van aanranding, roof, besit van vermoedelik gesteelde eiendom, verkragting, aanranding met die doel om ernstig te beseer, poging tot moord, besit van ongelisensieerde vuurwapen en besit van dwelms.
Misdaadvoorkomingsoperasies wat vanaf Vrydag in die Wes-Rand-distrik uitgevoer is, het gelei tot die arrestasie van 217 verdagtes. Hierdie geïntegreerde en intelligensie-gedrewe operasies het padblokkades ingesluit wat op groot nasionale en provinsiale paaie uitgevoer is. ‘n Verdagte is gearresteer nadat hy in besit gevind is van ‘n wit Toyota Corolla wat na bewering in Kagiso gesteel is. Ander verdagtes is in hegtenis geneem vir misdade wat wissel van moord, motorkaping, sakeroof, huisroof, diefstal, verkragting en bestuur terwyl hulle onder die invloed van drank was.
Operasies in die Sedibeng-distrik het daarenteen gelei tot die inhegtenisneming van 77 mense. Verdagtes is in hegtenis geneem vir misdade soos die besit van gesteelde eiendom, huisbraak en diefstal, handel in dwelms, verkragting en poging tot moord.
Polisiebestuur in die provinsie het met waardering kennis geneem van die betrokkenheid van die gemeenskap in die bekamping van misdaad en pogings wat deur die lede op die grond aangewend word om misdaad in die provinsie tot die minimum te beperk.
Die gearresteerde verdagtes sal vanaf Maandag, 10 Januarie 2022 in verskeie landdroshowe regoor Gauteng verskyn.