’n Verdagte het in die hof verskyn oor die brand wat deur Suid-Afrika se parlementskompleks in Kaapstad gewoed het.
Zandile Mafe (49) van Khayelitsha word daarvan beskuldig word dat hy die parlement aan die brand gesteek het. Hy is Sondag in hegtenis geneem en het gister sy eerste verskyning in die Kaapstadse landdroshof gemaak.
Mafe is aangekla van brandstigting en huisbraak met die opset om te steel asook diefstal. Hy is ook aangekla van die afvuur van plofstof en die beskadiging of vernietiging van noodsaaklike infrastruktuur.
Hofstukke het ook onthul dat items wat deur Mafe gesteel is, skootrekenaars, breekware en dokumente insluit.
Adnaan Gelderblom, die staatsaanklaer, het in die hof gesê die staat sal borgtog teenstaan.
Voorsittende Beamptes van die Parlement, verteenwoordig deur die Speaker van die Nasionale Vergadering, me Nosiviwe Mapisa-Nqakula, en ‘n afvaardiging van NEHAWU, gelei deur sy President, mnr Mike Shingange, het gister ‘n dringende vergadering gehou na aanleiding van die brandvoorval wat twee dae gelede uitgebreek het. Die vergadering volg op ongelukkige openbare spanning sedert die uitbreek van die brand wat verband hou met sake van sekuriteit, beroepsgesondheid en veiligheid.