President Cyril Ramaphosa sal vandag die eerste deel van die verslag van die Geregtelike Kommissie van Ondersoek na Bewerings van Staatskaping van die Kommissie se voorsitter, waarnemende hoofregter Raymond Zondo, om 15h30 by die Uniegebou in Pretoria ontvang.
Die Kommissie se finale verslag sal in drie dele aan die President voorgelê word.
Die tweede deel sal na verwagting aan die einde van Januarie 2022 oorhandig word, en die laaste deel aan die einde van Februarie 2022.
Ten spyte van die besluit soos bo genoem, is ‘n dringende aansoek deur Democracy In Action (DIA) by die hof ingedien om deel 1 se oorhandiging in die wiele te ry.
In hofstukke gerig aan die Johannesburgse hooggeregshof het DIA gevra dat hul pleidooi reeds gister aangehoor moet word, maar dit sal glo eers vandag om 16:00 plaasvind.
Intussen moet deel I van die verslag aan die president oorhandig en Dinsdagmiddag aan die publiek vrygestel word.
Die organisasie het die hooggeregshof gevra om die oorhandiging hangende deel B van sy saak te interdikeer, waarin hy wil hê die hof moet beveel dat die verslag aan adjunkpresident David Mabuza gelewer moet word.
Thabo Mtsweni, van Democracy In Action, sê in ‘n beëdigde verklaring dat Ramaphosa die adjunkpresident van SA was gedurende die jare wat deur die staatskapingskommissie ondersoek is. Hy was ook hoof van die ANC se ontplooiingskomitee en “het ’n rol gespeel in die aanstelling van van die leiers van staatsondernemings, wat sentraal tot die staatskapingskommissie gestaan het”, berig TimesLive.
Hy was die leier van regeringsake as adjunkpresident en op die interministeriële komitee van die “Eskom-oorlogkamer” – sentraal tot die kommissie, het Mtsweni gesê.
Daar is ook getuienis voor die kommissie gebring dat Ramaphosa “die aandeelhouer” by Glencore, ‘n kontrakteur van Eskom, was – ook “sentraal” tot van die getuienis wat gelei is, het hy gesê.
Hy het gesê Ramaphosa is “deur baie getuies tydens die kommissie geïmpliseer, en daarom is hy nie die beste geskik om die verslag te ontvang nie”.
Mtsweni het verwys na die hofsaak waarin oudpresident Jacob Zuma die opdrag van die voormalige openbare beskermer Thuli Madonsela betwis het dat die voorsitter van die kommissie deur die hoofregter gekies moet word omdat Zuma persoonlik betrek is. Die hooggeregshof het Madonsela se opdrag bekragtig.
As die verslag aan Ramaphosa oorhandig word, sal dit teenstrydig wees met die beginsels wat in daardie saak uiteengesit is, het Mtsweni gesê, “aangesien die verslag in die hande sal wees van die persoon wat deur die getuies geïmpliseer word”.
Mtsweni het gesê die verhoor is tot Dinsdag 10:00 uitgestel.