Die parlement se voorsittende beamptes het die uitbreek van ‘n tweede brand op die parlementêre gebou gisteroggend bevestig. Die oorsaak van die brand is nog nie vasgestel nie en ondersoeke word deur die betrokke owerhede gedoen.
Die brand het beide die ou Vergadering-vleuel en die Nasionale Vergadering-vleuel van die geboue van die Parlement, wat die kamers van die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies huisves, geraak. Die brand in die ou vleuel is bedwing. Brandbestryders probeer tans om die brand in die nuwe vleuel, waar die brand in die Nasionale Vergaderingkamer woed, te beheer.
Speaker van die Nasionale Vergadering, me Nosiviwe Mapisa-Nqakula, en voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, mnr Amos Masondo, het hul waardering uitgespreek teenoor die Stad Kaapstad se Brand- en Reddingsdienste vir hul vinnige reaksie en die werk wat tot dusver gedoen is om die brand en beperk die skade so veel as moontlik.
Die departement van openbare werke en infrastruktuur, onder leiding van minister Patricia De Lille, die adjunkminister van staatsveiligheid Zizi Kodwa, die Suid-Afrikaanse Polisiedienste en veiligheidspersoneel van die Parlement is besig om die situasie te bespreek.
Niemand is beseer gedurende die voorval nie.
Die Voorsittende Beamptes van die Parlement is ontsteld oor hierdie voorval en die omvang van die skade wat tot dusver aan die gebiede van die setel van die nasionale wetgewer aangerig is. Hulle het alle relevante owerhede versoek om geen steen onaangeraak te laat om die oorsaak van die brand vas te stel nie. Die publiek sal op hoogte gehou word.