Oujaarsaand is gewoonlik ‘n tyd van feesvieringe en vele glimlagte. Vir diere is dit egter meestal ‘n traumatiese ervaring.
Die hoofbestuurder by Alberton DBV, Charmaine Southon, het met ons hul Oujaarsaand-ervaring ten opsigte van verskrikte diere gedeel.
“Oujaarsaand was verskriklik! Die McLaren Sirkus het naby ons perseel tent opgeslaan, en dit het alles net vererger. Daar was soveel vuurwerke…” het Charmaine gesê. Sy het gesê dit voel asof die mense in hul gemeenskap net nie omgee nie.
“Die ergste is dat die meeste van die diere wat inkom halsbande aan het. Hulle behoort aan mense. Tog herenig sommige van hierdie eienaars nooit met hul troeteldiere nie. Die ding wat ons mense bly aanmoeding om te doen, is om mikroskywe in hul troeteldiere te laat inplant. Op hierdie manier kan hulle hul diere terugkry wanneer hulle weghardloop of verdwaal.”
Daar is baie hartseer stories by ons verskillende takke oor troeteldiere wat net deur hul eienaars weggegee is, of ander wat verlore geraak het en nooit teruggevind is nie.
Die Kempton Park DBV se hartseer verhaal is dié van Lulu, ‘n 15 jarige worshondjie met die oulikste persoonlikheid. Sy is een van die oudste troeteldiere in hul hokke en is saam haar beste vriend Rex deur hul eienaar weggegee. Hopelik sal di DBV ‘n wonderlike huis kan vind waar iemand bereid is om beide aan te neem.
By die Boksburg DBV is Molly, ‘n gesteriliseerde worshond tefie wat plus minus 8 jaar oud is. Sy is voor Kersfees op straat gevind en niemand het haar kom opeis nie. Molly was duidelik iemand se geliefde troeteldier en skoothondjie. Die staf kan sien sy mis haar geliefdes baie.
Gabriel is tans aan’t huis by die Springs DBV. Sy eienaars het net eenvoudig gesê dat hulle hom nie meer wil hê nie. “Dit is skokkend en hartseer om te sien hoe harteloos mense kan wees,” sê ‘n DBV werknemer.
In die verlede het eienaars hul troeteldiere sommer by die Alberton DBV se hek gelos. Sommige mense het selfs katte, en een keer ‘n haas, oor die muur gegooi. Die ergste is dat daar ten alle tye personeel op die perseel is, en daar is ook ‘n 24-uur noodnommer.
Alberton DBV doen ‘n beroep op die publiek om eerder hul troeteldiere in te bring sodat hulle genoegsame inligting oor die betrokke dier op rekord kan hou. Dit maak dit makliker om ‘n nuwe huis vir so ‘n dier te kry as hulle meer agtergrond kennis het oor die dier.
Hulle wil ook graag hê dat hul 2022-projek vroeg dié jaar al afskop, waar hulle aflaaihokke voor die perseel wil oprig, indien daar mense is wat net hul diere wil aflaai.
Indien jy bereid is om ‘n bydrae te lewer, kan hulle gekontak word by 011 907 1568.
Onthou asseblief: die DBV is ‘n nie-winsgewende organisasie. Jy kan ‘n verskil maak deur ‘n skenking te maak. Enigiets sal waardeer word. Selfs ou komberse om die diertjies warm te hou is altyd welkom.