Skip to main content

’n Spesiale kabinetsvergadering wat gister gehou is, het verskeie veranderinge aan die aangepaste vlak 1 COVID-19-regulasies goedgekeur.

Dit volg op vergaderings van die Nasionale Coronavirus-bevelsraad (NCCC) en die President se Koördinerende Raad (PCC), wat opdaterings ontvang het oor die bestuur van die huidige 4de golf van COVID-19 in Suid-Afrika, wat hoofsaaklik deur die Omicron-variant gedryf word.

Die inligting wat ingesamel is deur die stelsel wat deur die Departement van Gesondheid gebruik word, het ‘n afname van 29,7% gerapporteer in die aantal nuwe gevalle wat in die week geëindig 25 Desember 2021 (89 781) opgespoor is, vergeleke met die aantal nuwe gevalle wat in die vorige week opgespoor is (127 753).

Alle aanwysers dui daarop dat die land dalk die hoogtepunt van die vierde golf op nasionale vlak geslaag het.

Gevalle het in alle provinsies afgeneem behalwe die Wes-Kaap en Oos-Kaap, wat stygings van onderskeidelik 14% en 18% aangeteken het. Daar was ‘n afname in hospitaalopnames in alle provinsies behalwe die Wes-Kaap.

Terwyl die Omicron-variant hoogs oordraagbaar is, was daar laer hospitalisasiekoerse as in vorige golwe. Dit beteken dat die land ‘n spaarkapasiteit het vir opname van pasiënte selfs vir roetine gesondheidsdienste. Daar is ‘n marginale toename in die aantal sterftes in al die provinsies.

Op grond van die baan van die pandemie, die vlakke van inenting in die land en die beskikbare kapasiteit binne die gesondheidsektor, het die Kabinet besluit om die volgende veranderinge aan Aangepaste Waarskuwingsvlak 1 met onmiddellike effek aan te bring:

Die aandklokreël sal opgehef word. Daar sal dus geen beperkings op die ure van mense se beweging wees nie.

Byeenkomste word beperk tot nie meer as 1 000 mense binnenshuis en nie meer as 2 000 mense buite nie. Waar die lokaal te klein is om hierdie getalle met toepaslike sosiale afstand te akkommodeer, mag nie meer as 50 persent van die kapasiteit van die lokaal gebruik word nie. Alle ander beperkings bly in plek.

Die risiko van toename in infeksies is steeds hoog gegewe die hoë oordraagbaarheid van die Omicron-variant. Die regering doen dus ‘n beroep op alle organiseerders van hierdie byeenkomste om te verseker dat alle gesondheidsprotokolle te alle tye nagekom word en dat alle deelnemers aangemoedig word om ingeënt te word.

Alkoholinstellings wat lisensies het om na 23h00 te werk, sal na volle lisensievoorwaardes terugkeer.

Die NCCC sal voortgaan om die situasie noukeurig te monitor en sal verdere aanpassings maak soos nodig, veral as die druk op gesondheidsfasiliteite toeneem.

Die dra van maskers in openbare plekke is steeds verpligtend, en versuim om ‘n masker te dra wanneer dit vereis word, bly ‘n kriminele oortreding.

Suid-Afrikaners word versoek om voort te gaan om basiese gesondheidsprotokolle na te kom om die oordrag van die virus te voorkom.

 

Leave a Reply