Skip to main content

Eskom het aangekondig dat Eenheid 4 van die Kusile-kragstasieprojek gister vir die eerste keer aan die nasionale netwerk gekoppel is. Hierdie sinchronisasie-mylpaal beteken dat vier opwekkingseenhede van die kragstasie nou gekoppel is aan die netwerk, en sal ‘n bykomende 800MW tot die land se kragstelsel bydra sodra die eenheid ten volle geoptimaliseer is na ‘n reeks toetse en ander ingebruiknemingsaktiwiteite.

Die eenheid sal oor die volgende ses maande tydens die toets- en optimaliseringsfase af en toe elektrisiteit verskaf, voordat dit aan die Generation-afdeling oorhandig word om amptelik deel van die kommersiële vloot te wees. Dit sal Eskom help, aangesien hy onverpoosd werk om die voorsieningskapasiteit-uitdagings aan te spreek.

“Hierdie mylpaal is net wat die land nodig het om Suid-Afrika en sy ekonomie aan te dryf. Hierdie prestasie dui op die meedoënlose pogings van die span om te verseker dat die kragstasieprojek sonder enige verdere vertragings voltooi word, wat sal help om Suid-Afrika se elektrisiteitskapasiteit te versterk,” het Bheki Nxumalo, Groephoof van Group Capital, gesê. “Ek is dankbaar vir die toewyding wat die Kusile-Operateurspan en sy kontrakteurs aan die dag gelê het.”

Sedert sinchronisasie verlede week het die eenheid na verwagting presteer en met tussenposes tot 330MW opgewek. Die eenheid se na-sinkronisasie-ingebruiknemingsaktiwiteite is goed aan die gang, en ervaar normale uitdagings soos verwag gedurende hierdie fase.

Konstruksie- en ingebruiknemingsaktiwiteite op die oorblywende Kusile-eenhede 5 en 6 vorder steeds volgens plan.

By voltooiing sal die stasie uit ses eenhede bestaan, en sal ‘n maksimum van 4 800MW produseer. Kusile, geleë naby eMalahleni in Mpumalanga, is Suid-Afrika se grootste konstruksieprojek en sal die wêreld se vierde grootste steenkoolaanleg wees.

Eskom pas nat rookgasontswaeling (WFGD) toe by die Kusile-aanleg as ‘n atmosferiese emissieverminderingstegnologie, in ooreenstemming met huidige internasionale praktyk, om voldoening aan luggehaltestandaarde te verseker, wat dit meer omgewingsvriendelik maak.

Kusile is die eerste kragstasie in Suid-Afrika en Afrika wat WFGD-tegnologie gebruik. WFGD is die nuutste tegnologie wat gebruik word om swaeloksiede (SOx), byvoorbeeld swaeldioksied (SO2), te verwyder in die uitlaatgasse van kragsentrales wat steenkool of olie verbrand.

Leave a Reply

error: Content is protected !!