‘n 19-jarige man, gewapen met ‘n kruisboog, het by Windsor-kasteel probeer inbreek. Dit is waar koningin Elizabeth II Kersfees deurbring. Hy is in hegtenis geneem en aangehou vir geestesgesondheidsbehandeling, het die polisie Sondag gesê.
“Sekuriteitsprosesse is geaktiveer binne oomblikke nadat die man die terrein betree het en hy het geen geboue binnegegaan nie,” lui ‘n verklaring van Londen se Metropolitaanse Polisie.
“Na die man deursoek is, is ‘n kruisboog gevind,” het dit bygevoeg.
Die voorval het gebeur terwyl die koningin ‘n rustige Kersdag by Windsor Castle, wes van Londen, saam met haar oudste seun en troonopvolger, Prins Charles, en sy vrou Camilla deurgebring het, berig AFP.
“Die man is in hegtenis geneem en het ‘n geestesgesondheidsevaluering ondergaan. Hy bly in die sorg van professionele mediese persone,” het die Metropolitaanse polisie gesê.
Die Geestesgesondheidswet laat die owerhede in Engeland en Wallis toe om mense met geestesgesondheidskwessies aan te hou en te behandel sonder hul toestemming.
Diegene wat ingevolge die wetgewing gehou word, word beskou as ‘n risiko vir hulself of ander.