Desmond Tutu, ‘n man wat as baba polio oorleef het, en as tiener tuberkulose opgedien het, het sy lewe voluit geleef. Nie eers die sluipmoordaanvalle of terugkerende prostaatkanker kon sy lus vir die lewe demp nie.
Sy hele lewe was gewy aan reg en geregtigheid. Apartheid, homofobie, Israel se Gasa gevegte, geslagsgelykheid, basta met kinderhuwelike, onderdrukking, en demokrasie was op sy ‘doen-lys’. Tesame met sy diepgewortelde geloof. Geen mens was in sy oë ordinêr nie. Almal was na die beeld van God geskape.
Sy teenwoordigheid in ‘n kerk wat tot die 1970’s meestal deur wit geestelikes gelei is, het die pad na stille aktivisme teen apartheid afgeskop. Hy het ‘sý waarheid’, dit waarin hy onwrikbaar geglo het, begin verkondig, en onder die velle van wit rassiste begin klim.
Konfrontasie oor menslike onregte was vir hom aan die orde van die dag. Wie sal die dag vergeet toe PW Botha in 1988 vir Tutu sy vinger gewaai het tydens ‘n konfrontasie, en Tutu sy eie vinger woedend in PW se rigting geswaai het met dié woorde: “Moenie dink jy praat met ’n klein seuntjie nie!”
Sy gunsteling spreekwoord was “I love to be loved” al was hy gehaat deur meeste mense wat apartheid voorgestaan het. Na 1994 het hy ook teen ‘sy eie mense’ die nuwe regering, uitgevaar oor hul wanbestuur. Zuma het veral skerp onder Tutu se tong deurgeloop toe hy onder verdenking van bedrog, korrupsie, geldwassery en rampokkery gestaan het. “Is dit hoekom mense gesterf het toe hulle apartheid beveg het?” het Tutu gevra. “Is dit hoekom mense in ballingskap was? Is dit hoekom mense gemartel is?”
Desmond Mpilo Tutu, gebore op 7 Oktober 1931, was die derde kind van ‘n huishulp, Aletta Dorothea “Matse” Matlhare, en die hoof van ‘n kerkbestuurde laerskool, Zachariah Zelilo Tutu. Sy ouer en jonger broers het almal as kinders gesterf en hy het slegs ‘n ouer suster, Sylvia, en ‘n jonger suster, Gloria, gehad.