Inligting is opgevolg oor ‘n werknemer van Matjhabeng Munisipaliteit in Welkom wat glo eiendom wat aan sy werkgewer behoort in sy besit gehad het. Hy is gearresteer vir die besit van vermoedelik gesteelde items wat ongeveer R50 000-00 beloop na ‘n gesamentlike operasie gister deur Matjhabeng Munisipaliteit Wetstoepassing, SAPD Lejweleputswa Distrik Taakspan en ‘n privaat sekuriteitsmaatskappy.
Die huis van die werknemer is geïdentifiseer en genader en toestemming is gevra om sy perseel te deursoek. Die volgende items is gevind en geïdentifiseer as die eiendom van Matjhabeng Munisipaliteit: groot hoeveelhede loodgietertoerusting, gereedskap, masjinerie, elektriese gereedskap, Persoonlike Beskermende klere (PPE) en ander diverse goedere soos toebehore, klampe, ensovoorts.
Die 52-jarige verdagte is in hegtenis geneem vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom en sal binnekort in die Welkom-landdroshof verskyn.