President Vladimir Poetin het Dinsdag gesê dat Rusland geen ruimte het om terug te trek in ‘n stryd met die Verenigde State oor die Oekraïne nie en tot ‘n harde reaksie gedwing sal word tensy die Weste sy “aggressiewe houding” laat vaar.
Poetin het sy opmerkings aan militêre amptenare gerig terwyl Rusland aangedring het op ‘n dringende antwoord van die VSA en NAVO op voorstelle wat hy verlede week gemaak het vir ‘n bindende stel veiligheidswaarborge van die Weste, berig Reuters.
“Wat die VSA in die Oekraïne doen, is reg voor ons deur… En hulle moet verstaan dat ons nêrens verder het om na terug te trek nie. Dink hulle ons sal maar net ledig toekkyk?” het Poetin gesê.
“As die aggressiewe houding van ons Westerse kollegas voortduur, sal ons voldoende militêre-tegniese reaksiemaatreëls tref en hard met onvriendelike stappe reageer.”
Poetin het nie die aard van hierdie maatreëls uitgespel nie, maar sy frasering weerspieël dié wat voorheen gebruik is deur die adjunkminister van buitelandse sake, Sergei Ryabkov, wat gewaarsku het dat Rusland tussenafstand-kernmissiele in Europa kan herontplooi in reaksie op wat hy beskou as ‘dieselfde wat NAVO beplan’.
Rusland verwerp die Oekraïne en Amerika se beskuldigings dat dit moontlik voorberei vir ‘n inval in die Oekraïne so vroeg as volgende maand, deur tienduisende Russiese troepe wat binne bereik van die grens gereed is, te ontplooi.
Dit sê dit het beloftes van die Weste nodig – insluitend ‘n belofte om nie NAVO-militêre aktiwiteite in Oos-Europa uit te voer nie – omdat sy veiligheid bedreig word deur die Oekraïne se groeiende bande met die Westerse alliansie en die moontlikheid dat NAVO-missiele teen Rusland op Oekraïne grondgebied ontplooi word.
Die Oekraïne se president, Volodymr Zelenskiy, het Vrydag gesê hy is gereed om Rusland te ontmoet vir “direkte gesprekke, tête-à-tête, ons gee nie om in watter formaat nie”. Maar Moskou het herhaaldelik gesê hy sien geen sin in so ‘n vergadering sonder duidelikheid oor wat die agenda sou wees nie.
In ‘n verklaring van die Kremlin word gesê dat Poetin in ‘n telefoonoproep met die Franse president Emmanuel Macron beklemtoon het dat die heroproep van die vier-mag Normandië-groep – wat die leiers van Rusland, Oekraïne, Frankryk en Duitsland bymekaarbring – konkrete stappe deur Kiev sal vereis om bestaande vredesooreenkomste te implementeer. Oekraïne sê dit is Rusland en sy gevolmagtigdes wat weier om betrokke te raak.
Met Westerse moondhede wat gretig is om Rusland te wys hulle is solied in hul steun aan Oekraïne en NAVO, het Duitsland se nuwe kanselier, Olaf Scholz, ook telefonies met Poetin gepraat.
Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Antony Blinken, het Dinsdag ‘n persoonlike ontmoeting tussen Biden en Poetin vir eers uitgesluit. “Ek dink ons moet sien of daar in die eerste instansie enige diplomatiese vordering is,” het Blinken in ‘n nuuskonferensie gesê toe hy gevra is of ‘n persoonlike beraad kan gebeur om die spanning te probeer verlig.
Karen Donfried, die Amerikaanse staatsdepartement se topdiplomaat vir Europa, het in ‘n inligtingsessie met verslaggewers gesê Washington is bereid om via drie kanale met Moskou in gesprek te tree – bilateraal, deur die NAVO-Rusland-raad wat laas in 2019 vergader het, en by die Organisasie vir Veiligheid en Samewerking in Europa.
Intussen, het sy gesê, sal die Verenigde State voortgaan om militêre toerusting en voorrade in die komende weke en maande na die Oekraïne te stuur – iets wat Moskou teëgestaan het.
“Soos president (Joe) Biden vir president Poetin gesê het, sou Rusland Oekraïne verder binneval, sal ons addisionele verdedigingsmateriaal aan die Oekraïners verskaf bo en behalwe dit wat ons reeds in die proses is om te voorsien,” het sy gesê.
Washington oorweeg streng uitvoerbeheermaatreëls om Rusland se ekonomie te ontwrig as Poetin Oekraïne binneval, het ‘n Biden-administrasiebeampte aan Reuters gesê, en die maatreëls sal Dinsdag in ‘n vergadering van senior amptenare bespreek word.
Jens Stoltenberg, sekretaris-generaal van die NAVO, het gesê die alliansie sal vroeg volgende jaar betekenisvolle samesprekings met Moskou aanvra.
Die Russiese minister van verdediging, Sergei Shoigu, het beweer dat meer as 120 Amerikaanse private militêre kontrakteurs aktief was in Oos-Oekraïne, waar Oekraïnse troepe sedert 2014 teen Russies-gesteunde separatiste veg, en het gesê hulle berei ‘n “provokasie” voor wat chemiese stowwe insluit.
Hy het geen bewyse ter ondersteuning van die bewering aangebied nie. John Kirby, die woordvoerder van die Pentagon, beskryf dit as “heeltemal vals”.
Dwarsdeur die krisis het Rusland gewissel tussen harde retoriek, oproepe vir dialoog en ernstige waarskuwings, met Ryabkov wat die situasie herhaaldelik vergelyk het met die Kubaanse missielkrisis van 1962 toe die wêreld op die randjie van kernoorlog gestaan het.
Baie van Moskou se eise, insluitend vir ‘n blok op NAVO-lidmaatskap t.o.v. die Oekraïne en die onttrekking van Amerikaanse en ander geallieërde troepe uit Oos-Europa, word deur Washington en sy vennote as nonsens beskou.
Maar om hulle uit die hand te verwerp, sal die risiko loop om enige ruimte vir dialoog af te sluit en die krisis verder aan te wakker.