Skip to main content

ISAAC CLOETE 

‘n Vrou is uit ‘n ambulans geslinger toe die noodvoertuig se as gebreek het.

Roos Beukes (60) is van Rooifontein. Sy en  haar gestremde seun, Prinschall Beukes,

was op pad huis toe vanaf die Garies-hospitaal. Tussen die twee dorpe het die ambulans se as gebreek. Tydens die ongeluk was net sy uitgeslinger.

Haar regterkantse boud en heup het gebreek, dus sal sy vir ses weke op haar rug moet lê. Twee weke in die hospitaal en vier weke tuis. In ‘n stemboodskap het sy gesê: “Ek is net die Here dankbaar dat ons gelewe het. As die ambulans vinniger gery het, sou ons seker nie gelewe het nie. Ek het nog seer kolle op my lyf, maar voel orraait.”

Volgens haar dogter, Ricayla Beukes, is Prinschall  veronderstel om sy medikasie van Kamieskroon te kry. Omdat hulle dit nooit vir hom stuur nie, het hy siek geword. Derhalwe was hy opgeneem in die Garies-hospitaal.

Sy het gesê: “Omdat verpleegpersoneel hier glo bangerig is vir Prinschall, moes my ma hom gaan oppas. Die ongeluk het gebeur nadat Prinschall  ontslaan was en hulle op pad na Rooifontein was. My ma en broer moes toe teruggeneem word na Garies-hospitaal.

Intussen moes antie Roos se kinders geld bymekaar maak sodat private vervoer vir  Prinschall vanaf die Garies-hospitaal na Rooifontein kon neem. Sulke vervoer kan tot R 1 200 beloop.

Die familie oorweeg nou om stappe  te neem en by die padongeluk-fonds te eis vir pyn en lyding. En hulle soek antwoorde vanaf die departement van gesondheid.

Ambulansdienste in die Kammiesberg-area, waaronder Garies val, is beroerd of afwesig. Weens die swak paaie en lang afstande tussen dorpies is dit moeilik om standaard mediese sorg en ambulansdienste hier te lewer, volgens inwoners.

Behalwe dit is die ambulansvloot by die Garies-hospitaal hopeloos onvoldoende.

Dr Isak Fritz, ( LP) is die DA se woordvoerder oor gesondheid. Hy het ‘n striemende aanval gedoen op die swak gesondheidsdienste in die Noord-Kaap.

Die ambulansdienste op Springbok wou nie kommentaar lewer nie.

* Onlangs het die LUR vir gesondheid in die Noord-Kaap, Maruping Lekwene, 20 nuwe ambulanse, van miljoene rande, aan verskeie gesondheidssentrums dwars oor die provinsie oorhandig.

Kimberley het 5 bussies ontvang en die res (15) is aan kleiner plekkies, soos Vioolsdrift en Garies in Namakwaland, toegeken.

Leave a Reply