Skip to main content

Die Valke se Ernstige Georganiseerde Misdaad-ondersoekspan in die Vaalrand het twee mans in die Alrode-Suid-omgewing in hegtenis geneem wat positief verbind word met die Transnet-brandstofdiefstal ter waarde van ongeveer R500 000.

Daar word beweer dat die Fidelity-veiligheidsdienste verlede Saterdag op verdagte aktiwiteite by een van die Transnet-brandstofaanlegte in Alrode-Suid, naby Alberton gereageer het. By hul aankoms is twee mans na bewering gevind in besit van ‘n graaf en plastiekhouers wat hulle besig was om met ‘n tuinslang vol brandstof te maak.

Die ondersoekspan is na die misdaadtoneel uitgeroep en die verdagtes is vir ondervraging ingeneem.

Die duo, Mveliso Vabaza (28) en Martin Sibita (39), is daarna aangekla van peuter met noodsaaklike infrastruktuur en diefstal van brandstof.

Albei is in aanhouding hangende die ondersoek na hul verskyning in die Palm Ridge-landdroshof.

Die saak is tot Dinsdag, 28 Desember 2021, vir verdere ondersoek uitgestel.

 

In ‘n ander verwante saak het die Brackendowns-polisie verlede Vrydag beslag gelê op ‘n wit Isuzu-vragmotor met brandstof wat ‘n geraamde straatwaarde van R500 000-00 het. Die vragmotor se vrag brandstof is vermoedelik van dieselfde Transnet-brandstofaanleg gesteel.

Daar word beweer dat die vragmotorbestuurder gevlug en die vragmotor agter gelaat het. Hy word deur die polisie gesoek vir ondervraging.

Die ondersoek duur voort en nog arrestasies kan nie uitgesluit word nie.

Leave a Reply