Skip to main content

’n Gesiene boer in die Delmas distrik, wat reeds tronkstraf uitdien vir seksuele misdrywe teen ’n kleindogter, is ’n verdere vonnis vir seksuele vergrype op nóg kinders vroeër die maand in die Delmas Streekhof opgelê.

Dié oupa (68) se naam word weerhou om sy slagoffers te beskerm.

Hy is voorheen in Secunda Streekhof skuldig bevind nadat hy een van sy jong kleindogters misbruik het en is vir 15 jaar tronk toe gestuur.

Die seksuele misbruik van ’n tweede kleindogter, sowel as ’n niggie van hom, nou ’n volwasse vrou in haar vyftigs, het verdere skokgolwe en ongeloof deur die gemeenskap gestuur.

Volgens inligting was die niggie glo ook op ’n jong ouderdom deur die man misbruik. Haar lewe het aangegaan en sy is intussen getroud en woon in Australië.

Haar bekentenis en getuienis is glo’n bevryding vir haar na 47 jaar.

Die oupa het ook op die twee bykomende aanklagtes skuldig gepleit waarvoor hy in die Delmas Streekhof gevonnis is.

Hy is tot nog ses jaar gevonnis vir die seksuele misbruik van die niggie, wat samelopend met die aanvanklike vonnis uitgedien sal word.

Vir die seksuele misbruik van sy tweede en jonger kleindogter, is ’n bykomende twee jaar tronkstraf opgelê, bykomend tot die aanvanklike 15 jaar.

Op die aanvanklike klagte van verkragting, seksuele aanranding en die dwing van ’n kind om na seksuele dade te kyk, het die oupa in Mei 2019 skuldig gepleit.

Volgens inligting, is die oupa glo deur sy eie kundiges as ’n pedofiel geklassifiseer en is sy naam ook in die nasionale register vir seksuele oortreders opgeteken.

Ten tye van verdere vonnisoplegging, is die oupa skuldig bevind op die aanklag van verkragting van sy minderjarige kleindogter, (vier keer) en 15 jaar tronkstraf is opgelê.

Op die aanklag van seksuele molestering (20 keer), is nege jaar tronkstraf opgelê en vir die dwing van ’n minderjarige om na seksuele dade te kyk, is ’n verdere straf van nege jaar opgelê.

Leave a Reply

error: Content is protected !!