Alhoewel Eskom aangekondig het dat geforseerde kragonderbrekings vir nou iets van die verlede was, pas hulle steeds op ‘n slim manier beurtkrag toe.
Daar word nêrens op enige radiostasies of in nuusblaaie tye vir beurtkrag aangekondig nie, maar op Eskom se webblad lyk dit daagliks anders. Die dag voor beurtkrag dui hulle die datum, die verkose area, en die tyd aan waarop groot groepe mense sonder krag sal sit aan. Die verskoning is ‘Eskom implementeer lasvermindering om netwerkoorlading in hoëdigtheidsgebiede te vermy.
‘Tydens die implementering van die lasvermindering word kliënte versoek om al hul elektriese toestelle af te skakel om moontlike skade as gevolg van kragstuwings te vermy wanneer toevoer terugkeer. Versuim om dit te doen, kan lei tot transformator-skade, en skade aan huishoudelike toestelle wanneer toevoer herstel word.’
Dan, die kersie op die koek:
‘Moet asseblief nie hierdie onderbreking rapporteer nie.
‘Gemeenskappe word aangemoedig om meteromleidings, onwettige verbindings en vandalisme van die elektrisiteitsinfrastruktuur op die Eskom-misdaadlynnommer: 0800 11 27 22 aan te meld.’
Mense in gemeenskappe lees natuurlik nie berigte op Eskom se webwerf nie, en rapporteer dit met moeite by hul munisipaliteit waar daar gewoonlik só ‘n boodskap is:
‘Die stad/dorp is bewus van die kragonderbreking wat dele van (en die plekke) raak. Ons amptenare is op die terrein om foutopsporing te doen. Geskatte hersteltyd sal gekommunikeer word sodra die erns van die fout geïdentifiseer is.’