ISAAC CLOETE
Laas week was dit die polisie se beurt om totsiens te sê aan ‘n ontslape kollega.
Hy was die 39-jarige sersant Bileur “Billy” Hoffmann van die POPS-afdeling op Springbok. Hoffman het homself op Saterdag, 5 Desember, om die lewe gebring deur homself te skiet met sy dienspistool.
Ure voor dit het hy eers sy vervreemde vrou, Carmen Allison Rossouw (32), doodgeskiet by haar suster se woning te Simonsig, Springbok. Hierna het hy ‘n gas daar, Greagnian Vinique Julie (24) gewond. Laasgenoemde het Vrydag aan sy wonde beswyk.
Carmen Rossouw en Billy Hoffmann
Tydens die gedenkdiens Woensdag het luit/kol Daantjie Van Niekerk vir Hoffmann beskryf as ‘n lojale, gedissiplineerde en nederige mens wat net sy beste gegee het.
“Ons het Billy en die ander in 2017 aangeneem as ons eie kinders. Ek wou nie so van Billy afskeid neem nie. Ek is vandag baie hartseer, maar baie dankie aan sy ouers vir die opvoeding wat hulle hom gegee het. En baie dankie dat julle hom aan ons geleen het.
Kapelaan Marsha Baard het gesê dat Billy iemand was om op staat te maak as hy nodig was.
Kapt Ramond Vollmer, onder wie se bevel Billy vir drie jaar lank gewerk het, het gesê:
“Hy was passievol en het sy werk met groot ywerigheid gedoen. Hy was ‘n goeie luisteraar wat eers ‘n situasie opgesom het voordat hy opgetree het.”
Ten die einde het van die polisielede hande geklap, gejuig en gedans op die maat van koormusiek van die polisieband.
Hoffmann is Saterdag op Concordia begrawe.