Skip to main content

Die televisievervaardiger en –regisseur Herman Binge (68) is Donderdag aan kanker oorlede. Binge, wat gekoppel word aan flieks soos Johnny is nie dood nie, Nobody’s Died Laughing, ‘n Song vir Emily en Pride of Africa laat ‘n groot leemte in baie lewens agter.

Hy was met die aktrise Joanie Combrink getroud.

“Die nuus dat Herman Binge nie meer met ons is nie stop ons gesprek laatmiddag in ons kombuis. Vir ‘n paar minute raak ons stil. Sommer net stil asof die nuus nie lekker wil sit nie. Hoe kan dit waar wees dat só groot gees van ons bedryf nie meer daar is nie? Die vervaardiger met die siel van ‘n digter,” sê Gérard Rudolf, ‘n bekende akteur en digter, oor Binge.

“Daar is altyd die beeld in my geheue van Herman wat stel toe kom terwyl ons almal werk, altyd in ‘n baadjie, sy baard, met twee inkopiesakke. In die een lekkergoed. In die ander biltong. Soos ‘n saghartige vader loop hy van een persoon op die stel na die ander en deel lekkergoed en biltong uit, maak vriendelike geselsies met akteurs en technici, maak seker almal is OK. Laat almal, elke persoon spesiaal voel. Dis hoe Herman was. Dis hoe ek hom altyd sal onthou.

“Ons almal het respek vir hom gehad, eerbied. Hy het dit verdien. Hy was ‘n man met ouwêreldse integriteit. Skerp verby. ‘n Fantastiese storieverteller. Nie slegs ‘n vervaardiger nie maar ook akteur, skrywer, regisseur en soveel meer. Hy was die industrie en alles wat goed is daaromtrent.”

 

Leave a Reply