Skip to main content

Xolani Mbokodi en Vuyokazi Vapi, ‘n egpaar met vyf kinders, woon in Vlak Twee informele nedersetting in Khayelitsha, Kaapstad. Nadat hulle in 2020 hierheen verhuis het, en soos baie ander weens Covid-19 werkloos gelaat is, het hulle begin groente kweek op ‘n erf langs hul huis.

Die area, wat eers ‘n stortingsterrein was, is nou iets vir die oog, en voorsien groente aan die plaaslike sopkombuis wara werkloses kan aanklop vir ‘n maaltyd.

Die egpaar verkoop ook bondels groente, wat uie, beet, spinasie en aartappels insluit, vir R10/pakkie of bondel aan inwoners wat kan bekostig om vir kos te betaal.

Mbokodi het intussen werk as ‘n sekuriteitswag gekry, maar hy sê dat die ekstra geldjies help om vir hule kinders se vervoer skool toe te betaal.

Vapi, wat nie werk nie, staan daagliks om 05:00 op om die tuin te versorg. Mbokodi help dan in die tuin sodra hy tuis kom. Die egpaar sal graag ‘n groter erf wil bekom om meer produkte te plant.

“Dit voel goed om groente te plant en te kyk hoe hulle groei,” het Vapi gesê.

Vapi leer ook aspirant-huistuiniers hoe om saadbeddings te maak en gee vir hulle saad om te plant. “Ek besoek die nuwe tuiniers om te kyk hoe hul tuine vorder en om aan hulle te verduidelik hoe om na ontkiemende sade om te sien,” het sy gesê.

Leave a Reply