Skip to main content

In die eerste 14 dae van Desember is nege vermeende renosterstropers in hegtenis geneem.

Die mees onlangse saak, was dié van die vier renosters wat Woensdag by die Inverdoorn Privaat Wildreservaat buite Kaapstad gestroop is.

Searl Derman, eienaar van Inverdoorn Privaat Wildreservaat, het gesê die 24-uur Anti-Stropereenheid het alarm gemaak toe hulle die gru-toneel gevind het terwyl hulle op patrollies was.

“Die span het’n vyfde renoster vermis. Opsporingsoperasies is onmiddellik op die reservaat van 10 000 hektaar geaktiveer terwyl bestuur, die SAPD, bewaringspanne, en veeartse aan diens, in kennis gestel het van die voorval.

Een van die renosters wat gestroop is, was ‘n dragtige renosterkoei en daar was een renoster wat die voorval gelukkig oorleef het. Sy herstel van haar beserings by die reservaat.

Richard Yolk, uitvoerende hoof van Wildlife Ranching SA, het gesê dit is algemeen om ‘n toename in stropery gedurende die feesseisoen te sien.

“Stropery in die feesseisoen neem ongelukkig toe. Met die reën is dit ook op die oomblik baie moeilik om spore te sien en te volg, aangesien dit deur die reën weggespoel word.”

Sowat 249 renosters is in die eerste 6 maande van 2021 in Suid-Afrika doodgemaak vir hul horings.

Altesaam 24 renosterkarkasse is sedert 1 Desember regoor Suid-Afrika gevind, het die departement van bosbou, visserye en omgewing laat Dinsdag in ‘n reeks twiets gesê.

Die departement het gesê sewe karkasse is gevind by Kruger Nasionale Park, sewe in Mpumalanga, ses in KwaZulu-Natal en vier in die Wes-Kaap.

Leave a Reply

error: Content is protected !!