Noord-Kaapse boere is verheug oor die goeie reënval en sosiale media gons met foto’s en video’s van plasse water en riviere wat afkom.
Mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê dié organisasie, Agri Noord-Kaap en die landbougemeenskap in die Noord-Kaap is baie opgewonde oor die reën wat geval het.
“Baie plase in hierdie provinsie gaan gebuk onder finansiële laste en die boere word verswelg deur skuld. Baie plaaswerkers het ook hul werk verloor en landelike gemeenskap trek swaar vanweë die uitmergelende droogte.
“Ons hoop die reën sal weer vir hulle hoop bring. Ons hoop die reën sal die boere aanspoor om voort te gaan met hul landbou-aktiwiteite, dat hul kuddes sal herstel en dat hulle weer meer werkgeleenthede sal kan voorsien.
“Ons is bitter dankbaar vir die lekker reën wat geval het. Opvolgreën is nodig, want die ondergrondse waterbronne is ook uitgeput en dit sal tyd kos vir die veld om te herstel.”
Agri Noord-Kaap hoop vir mooiweer om die sowat 20 000 hektaar koring wat nog op die lande is te oes.