Skip to main content

ISAAC CLOETE

“Sy het gesterf omdat sy liefgehad het.”

Dit is hoedat ‘n pastoorvriend Carmen Allison Rossouw(31) se wrede skietdood Saterdag opgesom het tydens haar begrafnisdiens.

Haar vervreemde man, Bileur Hoffmann, het haar verlede Saterdag met sy dienspistool op Springbok doodgeskiet. Ook het hy ‘n 24-jarige man hier doodgeskiet. (Dié het Vrydag aan sy wonde beswyk.) Daarna het Hoffman hom elders self van die gras gaan maak.

Die pastoor, dr Donald Joseph, moes die bedankings waarneem in ‘n stampvol kerk. Volgens hom het Carmen so twee maande gelede op Pofadder haar hart teenoor hom uitgestort oor haar huwelik. Hy het gesê: “Ek staan nie skei voor nie. Toe ek verneem van die hoë risikofaktore in  haar stormagtige huwelik, het ek haar aangeraai om eerder aan te beweeg.”

Carmen het egter geantwoord dat hy (die pastoor) nie sal verstaan nie, want sy het hom (haar man) dan nog lief.

“Carmen jy sal uiteindelik die finale prys moet betaal, maar hierdie prys is te hoog. Dit was  nooit in  God se gedagte  gewees nie  dat vrouens die slagoffers moet wees van gesingeweld,” het hy haar geantwoord.

Joseph het Carmen se dood as sinneloos beskryf.

Ds Johan Cloete, wat die egpaar vyf jaar gelede getrou het, het sy preek op Johannes11:33-43 gebaseer.

“Ons moet geslagsgebaseerde geweld beveg. Man, wees lief vir jou vrou. Vrou, wees onderdanig aan jou man. Kind, wees gehoorsaam aan julle ouers. Hou op mekaar skuld gee, want dit is jý wat verandering moet bring.”

Hy het vir Carmen as iemand beskryf met ‘n oop en aansteeklike glimlaggie. Hy het egter vermaan dat ons nie moet oordeel nie, want net God kan dit doen.

Volgens kollegas was Carmen soos ‘n engel met ‘n goeie hart wat altyd andere gehelp het.

Hoffmann word Saterdag op sy tuisdorp,  Concordia, begrawe.

* Die 24-jarige man se naam is Greagnian V. Julie, oorspronklik van Nababeep.

 

 

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!