Die toewyding en vasberadenheid van polisielede om suksesvol by te dra tot ‘n veiliger feestyd asook hul strategiese ontplooiing om die instroming en verspreiding van dwelms te stuit, het weereens positiewe resultate opgelewer na die arrestasie van ‘n 42-jarige vrou in Swellendam in verband met ‘n aansienlike hoeveelheid dwelms en kontant.
Die Sigbare Polisiëringsbevelvoerder van die Swellendam SAPD, vergesel deur lede verbonde aan die Langeberg (Mosselbaai) K9, en gewapen met ‘n lasbrief, het die Misdaadvoorkomingseenheid op ‘n bekende onwettige dwelmhuis in Railton, Swellendam toegeslaan. Die perseel is deursoek nadat inligting van die publiek ontvang is.
Tydens die klopjag het lede 385,5 Mandrax-tablette en 179,9 gram Tik met ‘n gesamentlike geraamde straatwaarde van sowat R60 000 gevind, asook R2 610 kontant wat vermoedelik die opbrengs van misdaad is. Die 42-jarige verdagte is gevolglik gearresteer en die vonds is as bewysstukke gekonfiskeer.
Die verdagte sal op vandag haar eerste hofverskyning in die Swellendam-landdroshof maak op aanklagtes wat verband hou met dwelmhandel.
Die Wes-Kaapse provinsiale kommissaris, luitenant-generaal Thembisile Patekile, het die lede geloof vir hul optrede om die dwelms uit die strate te verwyder. Hy het lede aangemoedig om voort te gaan om die gesag van die staat af te druk.