O Koek! Daar’s ’n vrugtekoek
Moet nooit die krag (of smaak) van ’n vrugtekoek onderskat nie.
Só sê sanger, akteur en Cullinan se kosdiamant Willie Strauss nadat hy verlede Donderdag op Rian van Heerden se program The Scenic Drive op Jacaranda (nie)-amptelik aangewys is as die beste vrugtekoekbakker in die land. “Die vrugtekoek is ’n baie gewilde Kersgeskenk en bykans elke familie het al Kersdag aan ’n vrugtekoek gesmul.”
Tot Van Heerden, wat die afgelope ruk ’n smaak vir die koek ontwikkel het. Rian het geproe en toe verklaar: “Dit is ’n wonderlike, nat koek.”
Strauss spesialiseer in sjokolade vrugtekoeke. Selfs ou Matrone van die SABC 2-sepie het al op die kassie na “haar vriend Willie van Cullinan se vrugtekoeke” verwys.
Strauss het sowat nege jaar gelede begin om vrugtekoeke te bak en dit selfs vir mense te koerier of te pos/
September begin Strauss met die groot gebak. Hy bak tot 100 koeke ’n maand en as dit rosyntjies reën, moet ’n mens maar skep, trek Strauss skouers op.
Strauss sê dat niemand louwarm oor die koek kan voel nie. “Party mense haat ’n vrugtekoek. Ek dink dit is al die rosyntjies wat baie mense laat gril. Kyk, die vrugtekoek is ook nie ’n mooi koek nie. ’n Mens kan ook nie ’n mooi foto van die koek neem nie.”
En dan is mense ook so heilig op hulle vrugtekoekresepte, maar Strauss gee nie om om te deel nie.
Sy geheime bestandeel is ‘n knerts volroom sherrie (nie brandewyn nie) wat hy by sy tjoklit-vrugtekoek gooi. “Partykeer gooi mense so baie brandewyn in dáái koeke dat die spietkops jou nog drie weke later kan ruik.”
Hier is Willie Strauss se Tjoklik Vrugtekoek (met vergunning van die bakker)
Tjoklit Vrugte Koek
125 g botter
150 g bruinsuiker
100 g gesmelte donkersjokolade
125 mℓ sterk koffie
70 mℓ Van der Hum-likeur
50 mℓ Cape Velvet-likeur
100 g gemengde neute
400 g vrugtekoekmengsel
100 g gekerfde groen vye, waatlemoenstukke, ingelegde nartjiestukke en kersies, gemeng
30 mℓ kakaopoeier
200 g koekmeel
50 mℓ bruismeel
5 mℓ gemengde speserye
2 eiers, liggies geklits
Metode:
- Voorverhit die oond tot 160°C.
- Gebruik ‘n diep koekpan en onthou om die bodem met gesmeerde bakpapier uit te voer.
- Klop die botter, suiker en kakao saam tot romerig.
- Smelt die sjokolade en meng dit met koffie, Van der Hum- en Cape Velvet-likeur.
- Gooi die koffiemengsel oor die vrugtekoekmengsel in ‘n groot mengbak.
- Roer die neute en ander vrugte by.
- Skep die bottermengsel by en meng deeglik.
- Sif die koekmeel, bruismeel en gemengde speserye by en meng goed.
- Voeg die liggies geklitste eiers laaste by en meng weer goed.
- Skep die mengsel in die voorafbereide pan.
- Bak vir ongeveer twee uur tot gaar.
- Druk ‘n mes in die middel; as die lem skoon uitkom is die koek gaar.
- Gooi nog Van der Hum-likeur oor sodra die koek uit die oond kom en laat dit in die pan afkoel.
- Draai die koek in aluminiumfoelie toe en bêre dit vir minstens ‘n maand om goed ryp te word.