Die Franse regering is bereid om outonomie vir die Franse Karibiese gebied Guadeloupe te onderhandel “as dit in die belang is van die kolonie se mense”.
Guadeloupe is verlede maand lamgelê deur sporadiese gewelddadige betogings en plundery in verset teen streng Covidregulasies, ‘n inentingspaspoort en verpligte inentings vir gesondheidswerkers.
Ander maatreëls wat beplan word om Guadeloupe se inwoners te paai, sluit in die verbetering van gesondheidsorg, infrastruktuurprojekte en ‘n skema om werk vir sowat 1 000 jong mense te skep.
Die Franse regering het vandeesweek ook aangekondig dat hulle die verpligte inentings vir gesondheidswerkers in Guadeloupe en Martinique tot 31 Desember sal uitstel.
In Guadeloupe en die naburige Martinique is daar ‘n historiese wantroue in die Franse regering se hantering van gesondheidskrisisse nadat baie mense blootgestel is aan ‘n giftige plaagdoder, bekend as chloodekoon, wat in die 1970’s in piesangplantasies gebruik is.
Intussen dreig nuwe geweld in Martinique en Guadeloupe te midde van diep wantroue in die regering en die Covid-inentings.
Entstof-skeptisisme in Martinique en Guadeloupe is aan die orde van die dag met inentingsyfers wat baie laer is as die Franse nasionale gemiddelde. In Martinique het 22 persent van die mense ‘n eerste dosis ontvang, en 31 persent in Guadeloupe in vergelyking met byna 70 persent van die Franse bevolking.
Guadeloupe het sowat 400 000 inwoners.