SONJA BROWN
Die bekende Suid-Afrikaanse modeontwerper en stilis Simon Rademan, het gisteraand net nog ‘n inbraak-statistiek geword.
Diewe het gepoog om by sy huis in die ooste van Pretoria in te kom nadat hulle die deur se slot oopgebreek het, maar danksy sy hondekind, Duchess Sarah Diamond, se geblaf kon hy onmiddelik sy buurtwag-sekerheidsmaatskappy bel. Duchess was letterlik soos ‘n brak op ‘n warm dak en wou nie ophou blaf nadat die inbreker/s aan die deur geruk het nie.
ADT was gou op die toneel maar kon geen oortreders in die donker gewaar nie.
Vroegoggend, nadat Rademan en sy waghond inspeksie gedoen het, het hy gesien dat sy heining verwoes is, en twee tuinstoele, ‘n tuinslang en ‘n ‘sprayer’ voete gekry het.
‘n Reuse tuinbeeld was ook op sy sy gekeer. Rademan is oortuig dat die skelm/s dit ook probeer steel het, maar dit was te groot. Op die voorgrond van die foto is HRL Clovidia Wuhaa’an wat sy Covid/lockdown inkleurkaraktertjie is. “Ons wag vir haar afsterwe, begrafnisdiens en (ek dink) verassingsdiens! Sy is gelukkig nie gesteel nie!”
Ek het ‘n hondekind wie se pa ‘n hond was en haar ma ook ‘n hond was, maar met ‘n groter bek. Sy is my klein rescue, maar ek dink na dese dat sy my gisternag gered het.
“Waarom die deurslot stukkend is verstaan ek nie want al wat nou in die tuinwoonstel oor is na verlede Desember se inbraak is ou kondome, stukkende pêrels en ‘n halwe versameling boeke oor die Britse koningshuis.”
Elke inbraak raak Rademan diep. Oor vorige inbrake sê hy: “Dit het al verskeie kere gebeur. Die ergste een het ‘n hele paar jaar terug gebeur. Ek was met ‘n rewolwer naak uit die bad gehaal. My werkers was aanmekaar vasgemaak met maatbande. Ek is maar benoud met ‘n mate van PTSD daarna.”