Die onlangs gedokumenteerde Omicron-variant is dalk nie die feestelike nuus waarvoor die land gehoop het nie, maar ‘n skerp toename in gevalle is nie onverwags nie.
Terwyl Suid-Afrika en die wêreld wag om meer te wete te kom oor die kliniese kenmerke van hierdie nuwe variant, bly bestaande voorkomingsprotokolle die beste opsies beskikbaar om jou en jou gesin se kliniese risiko te verminder.
“Ons is baie gelukkig om wêreldleiers in Covid-19-navorsing hier in Suid-Afrika te hê met die vaardigheid en insig om nuwe variante te identifiseer. Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NICD) moet geloof word vir sy waaksaamheid en die groot bydrae wat dit tot internasionale begrip van die pandemie gemaak het, wat mettertyd sekerlik sal help om ons almal veiliger te hou,” sê dr Jacques Snyman, kliniese risiko-kenner en mediese adviseur van Health Squared Medical Scheme.
“Enige virusinfeksie kom in golwe. Aan die begin versprei ‘n nuwe virus soos Covid-19 vinnig aangesien baie min mense ‘n natuurlike immuniteit daarteen het. Soos wat meer mense besmet raak of ingeënt word, neem ons immuniteit toe en die golf stabiliseer. Wanneer die virus egter in nuwe variante muteer, kry die golf weer lewe. Dit sal aanhou gebeur totdat ons kudde-immuniteit bereik het, wat sal keer dat nuwe variante mense besmet. Ongelukkig is ons nêrens naby aan kudde-immuniteit nie en kan verwag dat hierdie golwe nog geruime tyd sal voortduur.”
Hy wys daarop dat die Covid-19 vierde golf in ‘n aantal lande in Europa se gevallegetalle hoog was, en in sommige gevalle rekordbrekend, die afgelope maande.
“In vergelyking met die eerste en tweede golf, het sterftesyfers gelukkig skerp gedaal. Covid-19 hou egter steeds aansienlike gesondheidsrisiko’s in en moet nie ligtelik opgeneem word nie. Duitsland se inentingskoers is van die laagste in Europa met 68%, terwyl ons in Suid-Afrika ver agter is met skaars 25% van ons bevolking wat ten volle ingeënt is wat die feesseisoen binnegaan,” sê hy.
“Ons is beter voorbereid as ooit tevore om nuwe variante in die gesig te staar omdat ons almal nou al vertroud is met die voorkomingsmaatreëls. Die vraag wat ons onsself moet afvra, is ‘Volg ons steeds die riglyne nougeset, of het ons selfvoldaan geraak – wat onsself en ander moontlik in gevaar stel?’,” merk hy op.
“Terwyl daar nog baie onsekerhede rondom die Omicron-variant is, is nuwe stamme nie onverwags nie omdat boodskapper-RNA-virusse soos Covid-19 geneig is om makliker te muteer, wat die skepping van nuwe variante aandryf. Terwyl die meeste van hierdie mutasies baie vinnig uitbrand, oorleef sommiges en gaan voort om ander mense te besmet.” Omicron is een van daardie mutasies wat oorleef het en toe begin versprei het.
Dr Snyman beklemtoon dat dit te vroeg is om te voorspel hoe hierdie nuwe variant gaan optree. “Aanvanklike data dui daarop dat dit meer oordraagbaar is, wat beteken dat dit vinniger kan versprei as ander variante wat ons tot dusver gesien het. Dit is moeilik om die erns so vroeg in ons vierde golf te voorspel aangesien meer data nodig sal wees, maar intussen is dit raadsaam om redelike voorsorgmaatreëls te tref,” sluit hy af.