Skip to main content

Minstens 53 mense is dood en nog tientalle beseer nadat die vragmotor waarin hulle vervoer is in die suide van Mexiko omgeslaan het, sê die owerhede.

Meer as 100 mense, wat na bewering migrante van Sentraal-Amerika is, was in die vragmotor se sleepwa toe dit in die staat Chiapas gerol het, berig BBC News.

“Dit is een van die ergste ongelukke van sy soort in Mexiko, met minstens 58 mense wat beseer is, sommige ernstig,” het Luis Manuel Garcia, hoof van die Chiapas-burgerbeskermingsagentskap, gesê.

Hy het gesê die slagoffers sluit mans, vroue en kinders in. Hul nasionaliteite is nie bevestig nie, maar plaaslike amptenare het gesê die meeste van die mense aan boord was migrante van Honduras en Guatemala.

Die vragmotor het glo gejaag toe dit op ‘n skerp draai omgeslaan het en ‘n voetgangerbrug wat na die Chiapas-staathoofstad Tuxtla Gutiérrez lei, getref het.

Chiapas, wat aan Guatamala grens, is ‘n belangrike deurgangspunt vir ongedokumenteerde migrante.

Leave a Reply