Skip to main content

Gister is een man gewond en twee mans dood in twee afsonderlike skietvoorvalle in Kempton Park.

Luitenant-kolonel Mavela Masondo het bevestig dat daar ‘n skietery Dinsdag in Kempton Park om 14h20 in Monumentweg plaasgevind het.

Paramedici het met aankoms op die toneel ‘n man gevind wat in die middel van die pad gelê het.  Lede van die SAPD was reeds op die toneel.  Na verdere mediese ondersoek het dit getoon dat die man ‘n skietwond aan sy heup opgedoen het.

Die man het na bewering ‘n taxibestuurder, wat by ‘n verkeerslig op die hoek van Monument en CR Swart gestop het, met pepersproei gespuit. ‘n Jaagtog het daarna gevolg waarna die man deur veiligheidsbeamptes voorgekeer is. ‘n Skietery het daarna losgebars.

Die man is deur ER24 mediese personeel behandel en later na die Tembisa-hospitaal vervoer vir verdere mediese sorg.

Die polisie ondersoek die omstandighede wat tot die skietery gelei het.  Daar is ‘n saak van poging tot kaping en poging tot moord geopen.

Die tweede skietvoorval het op Mooirivierweg in Kempton Park plaasgevind.

ER24-medici wat na die toneel ontbied is, het ‘n ligte motorvoertuig in die middel van die pad gevind met talle koeëlgate. Twee mans is in die voertuig gevind met verskeie skietwonde.

Paramedici het na verdere ondersoek bevind dat die twee mans reeds aan hul wonde beswyk het. Hulle is op die toneel deur die mediese personeel dood verklaar.

Die polisie ondersoek die twee afsonderlike skietvoorvalle verder.

Leave a Reply

error: Content is protected !!