Skip to main content

ALTA THERON

Centurion Hospice, wat hulle daarop roem dat hul geen terminale kankerlyer sal wegwys as hulle nie vir mediese sorg kan betaal nie,  het die huurders van die koffiewinkel op hulle perseel sowat drie weke gelede die trekpas gegee.

Dit kom nadat chef Paule-Henry Botha, wat aan beenkanker ly, en sy lewensmaat Hennie de Klerk, glo vir twee maande nie die huur betaal het nie. Die huur beloop sowat R12 000 per maand.

Intussen het dié twee begin om hulle kombuisparafernalia, industriële stoof en yskaste op Facebook te smous om Botha se mediese onkoste, wat al duisende rande beloop, te dek.

De Klerk het laat weet dat hulle nie kommentaar wil lewer nie. “Ons is wel daar weg, maar ons wil nie daarop uitbrei nie. “

Hulle het ’n  kennisgewing op hulle Facebook-blad geplaas. “Ons moes die moeilike besluit neem om ons koffiewinkel om verskeie redes te sluit. Ons gaan weer ’n bakkery in die ooste van Pretoria begin.”

Marius Bester, die operasionele bestuur van Centurion Hospice, het bevestig dat hulle verplig was om die paartjie kennis te gee omdat die huur agterstallig was.  “Ons het geen kwade gevoelens nie, maar ons kan nie meer net op die publiek staatmaak vir donasies nie. Ons is verplig om selfonderhoudend te wees en ons moet ons eie inkomste genereer. Dit kos die hospice sowat R1100 per dag om ’n pasiënt te onderhou. En ja, ons wys nie mense weg wat nie ons dienste kan bekostig nie.”

Centurion Hospice ook vroeër die week ’n nuwe koffiewinkel oopgemaak wat nou onder die bestuur van die hospice se kombuis val.   “Ons het al sowat ’n jaar gelede begin om spyseniersdienste te bied. Ons bakkery verkoop ook koeke, pasteie en allerhande fyngebak aan die publiek. Die koffiewinkel is net ’n manier waarop ons ons dienste uibrei,” sê Bester.

De Klerk, wat ’n oudpolisieman is en Botha, wat aan ’n Franse sjefskool studeer het, het in Junie verlede jaar die afgeleefde koffiewinkel, wat op die perseel geleë is,  teen sowat R200 000 in ’n wit-en-pienk plesier, Strawberry Moose,  omskep.

Op die spyskaart was onder meer fyngebak, wat petite fours ingesluit het, en ontwerperstoebroodjies wat nie die gewone liefdadigheidswinkelkoper se sak gepas het nie.

‘n Gewone koppie Five Roses-tee het jou sommer R30 uit die sak gejaag en ’n toebroodjie het jou amper R70 gekos.

Verskeie Hospice-ondersteuners het gekla oor die “belaglike pryse” en die voete het mettertyd minder begin word. “Paule-Henry en Hennie het nie geld gemaak nie. Die koffiewinkel is teen ’n reuseverlies bedryf,” het ’n bron na aan die paartjie gesê. “Paule-Henry wou ook nie die fynproewersgebak vervang met allemankos soos ’n sakpasontbyt nie.”

Bester sê dat hospice’s regoor Suid-Afrika dieselfde resep met hulle koffiewinkels volg; bekostigbare eet- en drinkgoed.

Centurion Hospice het ook ’n kompetisie op hulle sosialemediablaaie geloods waar hulle die publiek vra om ’n nuwe naam vir die koffiewinkel te kies.

Leave a Reply