Skip to main content

ALTA THERON

Deon van der Merwe van Touch of Class-faam het op die rype ouderdom van 60 die Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika se raadseksamen geslaag en gaan vroeg volgende jaar weer as kliniese sielkundige praktiseer.

Van der Merwe, wat ’n meestersgraad in kliniese sielkunde het, het vandeesmaand gehoor dat hy die bul van ‘n eksamen – waarvan die slaagpunt 70% is – met vlieënde vaandels geslaag het. “Dit was een van die moeilikste eksamens wat ek in my lewe moes aflê. Ek het agt maande vir die eksamen voorberei.  Ek moes al die wetgewing rakende die praktyk en al die verskillende sielkundige diagnoses op die punte van my vingers ken.

“Toe ek my studies voltooi het, was daar net sowat 40 aanvaarde psigiatriese diagnoses. Daar is vandag bykans 400 nuwe diagnoses.”

“Homoseksualiteit is, byvoorbeeld, ’n paar jaar gelede nog as ’n psigiatriese afwyking beskou en intensiewe terapie was nodig om die “lyers” te genees.”

Dié  bekroonde sanger en kitaarspeler wat Ek en my meisie as volkstreffer gevestig het, sê egter dit is nog nie die einde van Touch of Class nie. “Ek sal nog af-en-toe konserte hou, maar die musiekbedryf is in elk geval in sy maai in en ek moet iets doen om die pot aan die kook te hou,” sê hy.  “Ons sal egter sien wat die toekoms inhou. Ek is nie lus om nog op die ouderdom van tagtig in kroeë te sing nie.”

Ronéll Erasmus en Van der Merwe het 32 jaar gelede die groep begin en het die een treffer na die ander uitgeryg.  “Ons het baie geld gemaak,” erken hy “maar nadat ons platemaatskappy onder gegaan het, het dit finansieel ook sleg begin gaan. Die pandemie was ook ’n verdere gatslag vir die musiekbedryf.”

Nadat Ronéll die groep verlaat het, het Ruan du Toit haar rol oorgeneem, maar ná hulle ongekende sukses met die treffer The Sound of Silence het hulle paaie ook geskei.  Ruan het besluit om homself as solokunstenaar te vestig.

Dusty Dixon het op sy beurt by Ruan oorgeneem – ’n stap wat deur musiekkritici as “ongesond” vir die groep beskou is, want hulle kenmerkende klanke het weer verander.

Van der Merwe meen dat die groep weer ’n treffer met Stille Soldate gehad het en dat Dusty iets unieks – sy rasperstem – na die groep gebring het. “Die publiek het onmiddellik by Dusty aanklank gevind. Touch of Class is ’n bekende handelsmerk en ek dink nie dit maak regtig saak wie die duo in die sangduo is nie,” sê hy.

Leave a Reply