Skip to main content

Olaf Scholz het amptelik Woensdag Duitsland se nuwe kanselier geword. Die nuwe gebeurtenis kondig die einde van ‘n 16-jaar-lange Angela Merkel-era aan.

Scholz, wat aan die Sosiaal-Demokratiese Party behoort, kon met behulp van die Vrye Demokratiese Party en die Groenes (Greens) ‘n koalisieregering stig nadat sy party die meeste stemme gedurende September se federale verkiesing gewen het.

Elke party het gedurende die afgelope paar dae ‘n koalisie-ooreenkoms onderteken. Daarin word regerinsgdoelwitte, soos die uitfasering van steenkoolkragsentrales teen 2030, ‘n belofte om die land koolstofneutraal te hê teen 2045, en om minumumlone te verhoog tot 12 euro/uur, uiteengesit.

Scholz het seker gemaak dat lede van al drie die partye in die kabinet sal dien.

Wie is Olaf Scholz?

Die 63-jarige Scholz is ‘n loopbaanpolitikus wat oor die dekades verskeie poste beklee het. Hy was onder andere die minister van arbeid en die minister van finansies in koalisieregerings onder Merkel, het as burgemeester van die hawestad Hamburg regeer en was ook ‘n parlementslid. Hy is redelik geskoold wat politieke prosesse betref.

Vergeleke met Merkel is Scholz kalm, pragmaties, bestendig in krissistye en ‘n man wat na kompromie streef.

Merkel se regeringsmetode was meer ‘Oos-Duitsland’ georiënteer. Scholz s’n sal meer in lyn wees met die VSA s’n.

Op ‘n nuuskonferensie Dinsdag het Scholz hierdie doelwitte beklemtoon. “Die trans-Atlantiese verhouding en ons samewerking as deel van NAVO bly standvastig,” het hy gesê. “Ons verbind ons tot ‘n gemeenskap van demokrasieë regoor die wêreld en ek is baie dankbaar teenoor president Biden dat hy die belangrikheid van multilateralisme beklemtoon het en terselfdertyd is ons verbind tot wat spesifieke nasies verenig: die idee van vryheid, die oppergesag van die reg, demokrasie en respek vir menseregte.”

Sy nuwe kabinet, wat Maandag in Berlyn aan die media voorgestel was, lyk só:

Claudia Roth as die minister van kultuur, Anne Spiegel, die minister van gesinsake, Robert Habeck, die minister van ekonomie, energie en klimaatbeskerming, Annalena Baerbock, die minister van buitelandse sake, Cem Ozdemir, van Turkse afkoms, die minister van landbou, en Steffi Lemke, die minister van omgewingsake.

Agt uit sy 16 kabinetslede is vrouens.

Leave a Reply

error: Content is protected !!