Skip to main content

Isaac Cloete

Wanneer sy aan ‘n pen raak vloei die woorde soos goue ink daaruit.

En dan wil baie net na Elize Willemse (52) se  gedigte luister of dit lees. Die vroutjie van Garies in die Namakwa-streek, is juis onlangs weer vereer vir haar uitstekende gedigte.

Sy en ander digters het die week pouveertoekennings ontvang van die diggroep Padlangs, onder leiding van Ansie van der Merwe. Laasgenoemde is self ‘n digter/skrywer.

Sy het opgewonde gesê: “Ons het op dié diggroep ‘n gesamentlike bundel saamgestel wat handel oor narsisme. Dit volg na die Inkspraak-kompetisie waaraan ek ook deelgeneem het.”

Van haar gedigte is in beide bundels op Padlangs en Inkspraak opgeneem. Volgende op die lys is ‘n vroue-maandbundel, waarin die vrou vereer word, noem sy.

Volgens die beskeie  Willemse is dit vir elke digter ‘n groot eer om erkenning te kry vir hulle werk. Veral wanneer dit byvoorbeeld in die Inkspraak-bundel verskyn is ‘n baie groot eer, reken sy.

Vroeër die jaar het sy onder die bekende Elias Nel ‘n skryf- en slypskool te Worcester bygewoon. Hieroor het sy gesê:

“Ek is nederig dankbaar  teenoor Elias en dit is vir my lekker om hom trots te maak. Hy is ‘n yster en my mentor.”

Volgens Nel is Willemse ‘n digter met ‘n ingebore talent wat grootliks misken word en sy is nog redelik onbekend.

“As haar talent na behore bemark was sou sy definitief al in aanmerking gekom het vir een van die prestige literêre toekennings.”

Van der Merwe het haar gedigte as ‘n hoë standaard beskryf. Dit is altyd ‘n plesier om haar gedigte te lees, want haar Afrikaans is suiwer en haar skryfwerk netjies afgerond.

Intussen is haar tweede digbundel, Splinter jou Woorde, al geproeflees. Sy hoop nou dat dit vroeg volgende jaar die publikasie-lig sal sien. ‘n Derde een is ook op pad, volgens haar.

“Hierdie is my tweede pouveer-toekenning vir uitmuntende digkuns en die bevordering van Afrikaans,” noem sy trots.

Ten slotte, moedig sy haar volgelinge, lesers en die publiek aan om op die bemarkingsblad, Potpourri, te gaan rondswerf. Hier is haar eerste digbundel, Die liefde in ink, te siene.

Leave a Reply